Gekaapte vragmotor met medisyne, selfone, opgespoor

Argieffoto

ʼn Gekaapte vragmotor wat medisyne en selfone van meer as R7 miljoen vervoer het, is Woensdag in Primrose, Gauteng, opgespoor.

“Die vragmotor is Woensdagoggend in Boksburg gekaap toe die bestuurder deur drie gewapende mans in drie voertuie afgetrek is,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Daar word vermoed dat die verdagtes, sodra die vragmotor gekaap is, ʼn toestel aktiveer het wat veroorsaak het dat die vragmotor nie deur sporingstoestelle opgespoor kon word nie.”

Die vragmotor is buite ʼn winkel in Primrose opgespoor. “’ʼn Gedeelte van die vrag was reeds agter die winkel afgelaai. Een boks met selfone is oopgemaak en ʼn hele paar pakkies is gesteel.”

Die vragmotor sou die goedere by ʼn verspreidingsmaatskappy gaan aflewer het.

Die polisie het agt bokse Nokia-selfone, elk met 720 selfone daarin, opgespoor. Beamptes het ook van die medisyne en ʼn opsporingstoestel gevind.

“Die bestuurder van die vragmotor en ʼn winkeleienaar is in hegtenis geneem en die polisie is steeds op soek na ander verdagtes,” het Dlamini gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.