Eyewitness News berig dat ʼn regsgeding oor geld moontlik tot die Centurion moord-selfmoord gelei het.
Ses mense het Woensdag by die kantore van Du Randt-Richards Prokureurs vergader toe een van hulle ʼn vuurwapen te voorskyn gebring het. Die man het drie kliënte geskiet voordat hy homself geskiet het. Louis du Randt het in ʼn gesprek met Eyewitness News gesê dat die man sy vuurwapen tydens die vergadering uitgehaal het. Voor die skietvoorval het die vergadering glad verloop. Toe Du Randt probeer het om op te staan, het die man baie kalm vir hom gesê om weer te sit. Du Randt sê die man het toe sy eie prokureur aangesê om by die deur te staan en Du Randt het hom gevolg in ʼn poging om te ontsnap. Die man het homself egter geskiet toe Du Randt by die deur was. Die man en twee van sy slagoffers is op die toneel oorlede. ʼn Vierde slagoffer is kort ná die voorval oorlede.