ANC moet besef hy kan nie alleen ekonomie regruk nie

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die hoofekonoom by die Efficient Group, Dawie Roodt, sê dit is nou tyd dat die ANC-regering die noodsaaklike sprong neem en besef dat hy nie alleen die ekonomie kan bestuur nie. Roodt het gereageer op die eerste kwartaal se ekonomiese groeikoers wat met 2,2% verlangsaam het.

Dit was die swakste kwartaallikse groeikoers in nege jaar.

Roodt sê ofskoon die gegewens teleurstellend was, was dit te wagte. Hy wys daarop dat president Cyril Ramaphosa ’n agtergrond in die sakewêreld het en dit nou tot die land se voordeel moet gebruik.

Ofskoon die gegewens geskok het, was verskeie ekonome in die kol met hul verwagtinge. Ekonome praat ook nou dat dit dalk vir Ramaphosa die kans kan gee om weer na sy kabinet te kyk.

Volgens Roodt het Ramaphosa verskeie politieke probleme uit die Jacob Zuma-era geërf en dit moet reggestel word. Dit sluit onder meer staatskaping in. Hy sê daar is geen druk op Ramaphosa om van ekonomiese beleid te verander nie.

Roodt is egter beslis dat die ANC nou moet besef dat hy nie die ekonomie alleen kan regruk nie. Hy sê ofskoon daar vordering met staatsbeheerde ondernemings is, is daar nog uitdagings wat op die maatskappye wag.

Volgens Roodt het die tyd aangebreek dat die staatsbeheerde ondernemings ook ’n bydrae moet lewer tot ekonomiese groei. Tog wys hy daarop dat maatskappye soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens steeds ’n las vir die ekonomie en belastingbetaler is.

Roodt is egter van mening dat ’n teleurstellende eerste kwartaal nie noodwendig op swakker groei vir die res van die jaar sal dui nie. Hy verwag dat die groeikoers in die tweede helfte van die jaar kan herstel.

Die groeikoers is veral gestonk deur swak prestasies in die landbou, vervaardigings en mynbou-sektor. Roodt reken dat die regering te lank draai met die Mynbouhandves om die sleutelsektor weer op dreef te kry.

Die hoofekonoom by Standard Bank, Goolam Ballim, meen dat die nuus oor die groeikoers net die regte medisyne vir die ekonomie is. Hy sê dit kan die baan weg vir Ramaphosa om nou meer sy stempel op die ekonomie af te druk.

Die groeikoersgegewens het skokgolwe deur die markte gestuur. Die rand het met 1,8% verswak. Staatseffekte het ook gestyg wat beteken het dat Suid-Afrika ’n hoër prima op sy buitelandse skuld moes betaal het.

Ontleders sê egter dat die uitdaging nou voor Ramaphosa lê om sy bloudruk vir die ekonomie te hersien. Een ontleder het daarop gewys dat die Ramphoria wat die mark in Februarie begroet het, nou verby is.

Volgens ontleders sal hy nou moet leiding gee omdat mininisters in die ekonomiese tros almal kommuniste is. Dit sluit in Gwede Mantashe (mynbou), Ebrahim Patel (ekonomiese ontwikkeling) en Pravin Gordhan (openbare ondernemings).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

Hy sal nou moet skoonmaak onder die klomp ministers en provinsie premiers wat saam met Zuma om die vleispotte gesit het. Indien nie sal die verrottingsproses voortduur. Sy probleem le ook by die kiesers wat hy moet paai met die oog op 2019 se verkiesing. RAMAphosa ek weet nie. Dit terwyl hy die Moslems probeer paai.

marous ·

Daar is nie genoeg gom in die wereld om die skerwe van die sosio ekonomiese gemors van die land te heg nie . Disfunksionele regering gaan oor na geen regering en onbeheerbare gevolglike anargie. Dit is klaar hier.

Koekie ·

Ag asb die ANC luister na niemand nie .. hulle dink hulle kan alles doen . en alles regruk en is sulke helde hulle kan en mag en moet alles doen .. alles ten gunste van een groep en ten koste van ‘n ander … maar tog is die ‘ander’ se geld en belasting steeds goed genoeg om al hierdie planne van hulle te befonds. As hierdie koeie almal uitgemelk is sal ek wil sien wat gebeur dan .. lekker om te praat met vol koekieblikke . maar dis besig om leeg te loop

Eish ·

Die meerderheidsregering het eenvoudig nie die skietgoed om die ekonomie te stimuleer nie, punt. Hul slymspoor oor alle sfere van ons lewe getuig daarvan.
Gooi daarby n vergane sosialistiese beleid, en siedaar! Dit gaan van kwaad tot erger.

Koos de Meyer. ·

Ek het mos Allankal gesê soialisme onder die dekmantel van demokrasie. Als is ‘n gemors en ons betaal daarvoor. Hulle belas ons om elke hoek en draai sodat hulle lekker om die kospotte kan sit, praat nie eers van die sous trein nie. Land van melk en heuning.

Kobus Basson ·

Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid is ook ‘n kommunis. Handel en Nywerheid is ook ‘n strategiese pos.

John ·

Die beste volsin van die dag, maar ongelukkig wil en gaan die ANC nie na raad luister nie… wil inderwaarheid nie, want ‘n sluwe plan staan uitgewerk op die laaste blanke bladsy van sy Freedom Charter….

MadMom ·

Die ANC vernietig die ekonomie nie verbeter dit nie, hulle brand ons land af en verhoog net alles.

Jaco ·

Die bedreiging van onteiening sonder vergoeding is die grootste rede vir hierdie inkrimping, niemand wil bele in n land waar hulle alles kan verloor nie….vernaamd die boubedryf asook landbou word baie hierdeur benadeel…

Stef PApendorf ·

Die ANC het in 1994 die tafel skoon gevee en van nuuts begin. Nou wil hulle die brokstukke optel en weer aanmekaar lap. Alles wat hulle bestuur het van Onderwys tot Transnet lê aan stukke. Hoe wil hulle die ekonomie regruk as die pilare omgeval het?

UIT MY HART UIT ·

Mr. Ramaphosa, vra ons wat weet hoe, ons sal u rerig help om die land reg te ruk. Baie van ons sit sonder werk en ons is opgelei om die werk te doen. Moenie skaam wees nie, ons sal rerig ons bes vir jou gee. Suid Afrika was ‘n pragtigge plek….nou is dit afgebreek en aaklig…asseblief ek is seker daar is baie van die ou werkers wie se hande jeuk om te help.

Natan ·

Die ANC en hul masses ondersteuners is tevrede met ‘n ekonomiese groeikoers van 0.6% onder Zuma, wat beteken dié groei is baie laer as hul aanwastempo en geen werk vir die aanwas gaan wees nie. Daarby word aanwas aangemoedig met staatstoelaes. My werker het my meegedeel hoe sekere meisies rondlê in shabeens met die oog op ‘n kind en toelaag. Daarby word ‘n minimum loon vasgestel, terwyl die ANC die ekonomie saboteer en produktiwiteit verlaag. Korrupsie in die vorm van BEE gaan voort. Die uiteinde is dat die kaartehuisie inmekaar gaan plof. Die land se fondament is op dryfsand gebou, niks sal regkom tensy ons die fondament verstewig en op die regte grond bou nie. Publieke onrus, wat alle infrastruktuur verbrand, is algemeen wat ontaard in ‘n burgeroorlog veral met politieke faksies. Basies geen politieke party het ‘n duidelik ekonomiese beleid nie, net politieke opsweping.

IK ·

IK = Dit tussen die ore = kwalifikasie(s)/opleiding = geskik vir die werk/beroep = vooruitstrewend = wensdenkery in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.