Dit blý nag vir Wiese

Christo Wiese (Foto: ANA)

Die nagmerriejaar vir die Kaapse sakeman Christo Wiese duur voort. Wiese word as een van die land se voorste sakemanne beskou ná sy sukses wat hy met Pepkor, Shoprite-Checkers, die destydse Boland Bank en ander beleggings bereik het.

Maar sedert Desember het Wiese hom in ’n warrelwind bevind. Dit het begin met die ineenstorting van Steinhoff, waar hy voorsitter was. Die Steinhoff-sage is ver van verby en Wiese het aangekondig dat hy die maatskappy vir R59 miljard rand gaan dagvaar.

Die afgelope week is Wiese egter hard op twee fronte geslaan. ’n Belegging in Brittanje wat suur geloop het en ’n groot potensiële belastingseis plaaslik, het twee van sy ander maatskappye se winste ingekort.

Die Brait-maatskappy, waarvan hy die voorsitter is, het aangekondig dat sy netto batewaarde met bykans ’n derde gedaal het. Dit was om voorsiening te maak vir die afskryf van die waarde van sy Britse klerekleinhandelaar New Look.

Brait sê die groep se netto batewaarde het in die jaar tot Maart R27,1 miljard beloop. Dit verteenwoordig R57,3 per aandeel. Die netto batewaarde het die vorige boekjaar het R37,8 miljard beloop.

Brait is ook die eienaar van Virgin Active en die Britse kettinggroep Icelandic Foods.

Ontleders sê dat Brait se probleme net Wiese se kopseer vererger. Wiese is die grootste aandeelhouer in Brait. Boonop het die Steinhoff-ineenstorting miljarde rande van sy persoonlike welvaart uitgewis.

Markkenners wys daarop dat Brait vir New Look in 2015 bekom het. Die transaksie het $1,2 miljard (ongeveer R28 miljard) beloop en die Suid-Afrikaanse maatskappy aan die hoë vlak van Brittanje se kleinhandelmark blootgestel.

Brait het aangekondig dat hy nie ’n dividend gaan uitkeer nie. Dit was hoofsaaklik om sy kontant te gebruik om skuld te delg.

Brait se aandeelprys het onder druk gekom en Dinsdag tot R36,80 (1,2%) verswak.

Ontleders wys daarop dat Brait die afgelope paar maande onder druk gekom het weens die swakker Britse pond wat verdienste in rand gekniehalter het. Swak verbruikersvraag en wedywering in die Britse kleinhandelmark het New Look, een van Brait se grootste winsbronne, ook gestonk.

Terwyl New Look se waarde drie jaar gelede op R35 miljard beraam is, het Brait die waarde nou tot nul afgeskryf. New Look het in ’n stadium 45% van Brait se batewaarde beloop.

Wiese se probleme is egter nie net tot Brittanje beperk nie. Die genoteerde beleggingsfirma Invicta het pas aangekondig dat sy wins met 81% persent vir die jaar tot Maart gedaal het. Dit hoofsaaklik om voorsiening te maak vir ’n spesiale belastingsvoorsiening van R400 miljoen.

Invicta het gesê dat die belastingsvoorsiening verband hou met ’n transaksie wat ’n paar jaar gelede gedoen is. Die maatskappy het aangedui dat die belastingsvoorsiening gedoen is ondanks die groep se uitvoerende raad wat vol vertroue was dat alles korrek gedoen is.

Die maatskappy is tans in onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ’n oplossing te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lollie ·

Ek glo Wiese het ń HENGSE kopseer! Die probleem is …… hy het te veel geld!!!!!
Ek droom nie eers van sulke bedrae nie want dit is ver bokant my!
Mens kan nie glo dat party mense praat van miljarde rande en ander werk hard en sukkel om die pot aan die kook te hou!

ES ·

Daar is baie min mense van sy kaliber wat 100% etiese besigheidshandelinge doen. Ek dink nie Wiese is 100% onskluldig nie… So val die reuse van die sakewereld. Afgesien van hoe baie geld hy verloor het, is Wiese nogsteeds ‘n baie baie ryk man.

Rynhardt ·

Wiese soek simpatie.Destyds by Kodesa het bekende rykes saam met die natte die nuwe onderdrukkers(Anc) vol geskenke gestop wat ons vandag met mening onderdruk.Nou ervaar sekere rykes ook die ellende wat ons vir jare moet verduur!Die wiel is besig om te draai!!

brens ·

Ja-nee; hetsy baie geld of gesondheid; dit kan gou kom tot n val. Niks is permanent nie; en ja dis belaglik om te dink mense het soveel rykdom; mense loop op straat en eet uit asblikke; dink net hoeveel mense kon behuising en kos gegee word met al daai miljarde! mammon…wortel van alle kwaad!!

Tammy ·

Mense met baie geld het daarvoor gewerk. Hulle was bereid om die kans te waag en hulle nie blind te staar teen risiko nie. Ongelukkig sodra jy baie meer as ander het, sal jaloesie jou agtervolg sover as wat jy gaan en die rowers(skelms) daarmee saam. Ook die kerke, skole, familie en vreemdelinge agtervolg jou en kyk wat hulle uit jou kan kry, maar wanneer jy 18 ure per dag bloedsweet weet niemand daarvan nie. Ja, dit is moontlik dat daar in sommige gevalle mense is wat nie eties optree nie, nie eerlik is nie, maar ek se nogsteeds n baie groot groep ryk, skatryk mense werk vir wat hulle het!!

Nel ·

Miskien moet mnr Wiese by Warren Buffet (derde rykste man in die wêreld)
gaan kers opsteek;
Rule No.1: Never lose money
Rule No. 2: Never forget rule no.1

Gemaskerde Sopbeen ·

En steeds draai my ouma se woorde in my kop: “‘n Doodskleed het nie sakke nie!!”

Lukas ·

As ek op sy ouderdom soveel geld gehad het, het ek laaaaaankal op my motorfiets gespring en plekke soos Mongolië en Suid-Amerika gaan plat ry. En wanneer ek moeg gery is, sou ek die hele wêreld vol gaan scuba duik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.