Eskom wen kredietagentskappe se vertroue effens terug

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, lê vroeër hierdie maand dié maatskappy se jaarlikse finansiële uitslae voor by die kragvoorsiener se kantoor in Johannesburg. Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA.

’n Nuwe bestuur, ’n minister wat nie staatskaping duld nie en Eskom se eerlikheid met sy jaarverslag. Dié faktore het die onderneming gehelp om weer bakhand by buitelandse beleggers te gaan aanklop.

Die senior ekonoom by economists.co.za Mike Schüssler sê met dié faktore het Eskom waarskynlik twyfel uit die weg geruim om Moody’s Investor Services se steun te kry.

Moody’s het beleggingstatus verskaf aan die buitelandse uitgifte van $4 miljard (sowat R52,6 miljard) wat Eskom wil aangaan.

Eskom se topbestuur besoek Londen, New York en Boston vandeesweek om buitelandse beleggers te oortuig om in die sukkelende staatsbeheerde onderneming te belê.

Schüssler sê daar is waarskynlik ’n staatswaarborg gegee omdat Moody’s Suid-Afrika nog op investeringstatus gehou het.

Volgens Schüssler sal buitelandse beleggers meer gerus voel oor die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, juis omdat hy ’n sterk teenstaander van staatskaping was. En dat hy as minister van finansies hard probeer het om staatsbesteding in te kort.

Hy wys daarop dat die nuwe raad oop en eerlik was deur Eskom se finansiële status aan die publiek bekend te maak. Hy sê dit kon alle twyfel uit die weg ruim en aandui dat die nuwe raad Eskom wil stabiliseer.

Schüssler sê die nuwe raad het ook geen verbintenis met staatskapings nie, wat buitelandse beleggers gerus sal stel. Volgens hom kon die regering waarskynlik ’n waarborg uitgereik het. Dit beteken dat belastingbetalers sal moet opdok indien Eskom nie die uitgifte kan terugbetaal nie.

Die laaste paar jaar het die Nasionale Tesourie geen Eskom-uitgif gewaarborg nie.

Ontleders beskou die aankondiging as goeie nuus vir Eskom. Moody’s het die uitgifte op dieselfde vlak as die land se kredietstatus van Baa3 uitgereik.

Eskom het sedert 2015 nie geld op buitelandse kapitaalmarkte geleen nie. Dit het ook nie die plaaslike skuldmark sedert 2016 betree nie. Dít nadat die staatskapingberigte al fel geword het en verskeie bestuurslede en politici daaraan gekoppel is.

Ekonome sê indien die uitgifte ten volle ondersteun word, dit saam met die lening van $2,5 miljard (sowat R32,88 miljard) wat China verlede week aangekondig het, Eskom ’n  groot hupstoot sal gee.

Schüssler waarsku egter dat die nuwe bestuur versigtig sal moet optree om beleggers gerus te stel.

“Sodra beleggers gerus voel, sal Eskom in die toekoms waarskynlik nie oor soveel hekkies hoef te klim nie,” het hy bygevoeg.

Die uitgifte is deel van Eskom se plan om kapitaal op te bou. Benewens sy verlies in die vorige boekjaar, moet hy ook geld vir kapitaalbesteding hê. Een van die projekte wat hy moet voltooi, is die Kusile-kragsentrale naby Witbank.

Ontleders meen deur waaksaam te bly, kan die raad beleggers se steun terugwen.

Een ontleder, wat nie genoem wil word nie, sê die staatskapingprojek by Eskom was ’n skreiende skande en dit is nou tyd dat die skuldiges boet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lerato ·

Gelukkig is daar nie meer n Zuma wat die afvaardiging onmiddellik kan terug roep nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.