Fiskale kommissie waarsku regering

Argieffoto

Die land se finansiële en fiskale kommissie het vanoggend in sy jaarlikse analise van die verdeling van nasionale inkomste verskeie rooi vlae uitgeplaas om die regering tot besinning te roep wat besteding betref.

Die belang van die kommissie se inset is dat die Grondwet en relevante wetgewing van die regering vereis om die kommissie se inset spesifiek in ag te neem by die opstel van die nasionale begroting en die mediumtermynbegroting. Die tesourie moet dus spesifiek verklaar waarom sommige van die kommissie se aanbevelings geïmplementeer word en ander nie. As sulks help dit die raam van die begroting bepaal, en is dit belangrik.

In ’n somber en deurtastende verslag wat op empiriese navorsing en bewysbare feite eerder as idealistiese beleidsverklarings berus, het die kommissie by monde van sy voorsitter, prof. Daniel Plaatjies, as volg bevind: Hoewel groot dele van die staatsdiens funksionerend is, is streng ingrepe en kriminele vervolging nodig as die gehalte van basiese diensvoorsiening gaan verbeter.

Die vertrekpunt van vanjaar se verslag was hoe om nasionale ontwikkeling te bevorder in die huidige tydperk van ekonomiese besuiniging deur verbeterde fiskale stelsels daar te stel.

Plaatjies het nie doekies omgedraai nie – gegewe die land se powere ekonomiese groei is beweegruimte min. Nog redes vir laasgenoemde is die verminderde staatsinkomste omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sy teikens met belastinginsameling nie haal nie, gekombineer met die voortgesette noodsaak van dienslewering aan mensonterend arm kwesbares.

Die kommissie wys uit dat Suid-Afrika se fiskale werklikheid sedert 2011 onstabiel is, en maak die interessante punt dat dit veral provinsiale regerings en munisipaliteite is wat gevolglik die spit afbyt, met die armste Suid-Afrikaners wat aan die kortste ent trek.

Dit is trouens een van die kommissie se sterkste boodskappe dat die sentralisering van dienslewering nie noodwendig tot beter dienste lei nie. In ’n bevinding wat die huidige konvensionele denke uitdaag en vir die nasionale regering ’n verleentheid sal wees, wys die kommissie met vers en kapittel uit dat verskeie provinsies en munisipaliteite beter dienste lewer as die nasionale regering.

Die kommissie was trouens baie uitgesproke daaroor dat die huidige model waarvolgens die sentrale regering elke nou en dan spesifieke munisipaliteite en provinsies se regeringspligte oorneem in sogenaamde “reddingsaksies”, dikwels ondoeltreffend is, ’n korttermyn-handeling verteenwoordig en tot verwarring lei.

Eerder as om regeerpligte oor te neem, moet die sentrale regering sy grondwetlike plig nakom, het die kommissie bevind. Dit moet ook behoorlike opleiding en steun verskaf aan diegene wat op provinsiale en plaaslike vlak in die tersaaklike poste is, waarheen hulle sal moet terugkeer nadat die sentrale “reddingspan” terug is Pretoria toe.

Die kommissie het die sentrale regering gestriem omdat die magte van provinsies – wat dikwels in ’n beter posisie is om vlugvoetig begrotings te heroriënteer wanneer plaaslike omstandighede verander – ondermyn word omdat die sentrale regering soveel streng afgebakende begrotingstoewysings maak.

Een van die grootste punte van kritiek deur die kommissie is dat nie genoeg instandhouding aan infrastruktuur gedoen word nie, wat die staat se aanspraak op die wyer verskaffing van basiese dienste tot belaglikheid maak.

As voorbeeld hiervan noem die kommissie die regering se aanspraak dat al meer mense toegang tot kraanwater het. Die kommissie wys uit dat die verval van infrastruktuur egter beteken dat ’n mens nie op die beskikbaarheid van water kan staat maak nie.

’n Skokbevinding deur die kommissie is dat net 65% van die land se watervoorsiening betroubaar is. Die res word gereeld onderbreek.

Die kommissie eindig sy pleidooi met drie opsommende basiese punte waarvan die blote feit dat hulle uitgewys moet word – en dus nie behoorlik bestaan nie – die ergste aanklag teen die regering se finansiële en fiskale beleid vorm.

Die kommissie pleit eerstens by die regering om die land se ekonomiese uitdagings beter te verstaan en met groter fokus te takel. Tweedens benadruk die kommissie dat ’n gebalanseerde en volhoubare fiskale posisie deur die regering geformuleer en eerbiedig moet word. En derdens waarsku die kommissie dat die staatsdiens ondoeltreffend en swak waarde vir geld is vir belastingbetalers.

Die regering moet dus produktiwiteit vereis en meet, dissipline streng afdwing en indien toepaslik kriminele vervolging instel teen die vrot appels in die staatsdiens indien ’n doeltreffende finansiële en fiskale beleid vir die land daargestel wil word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Albaster ·

So hoeveel is vir grond koop vir grondhervorming begroot? Amper niks soos in die verlede, want hulle wil mos nou net gryp?

Alida ·

Die ekonomie kan nie groei nie. Wie gaan bele in n brandende 3de wereld land? Die ANC het het SA verwoes deur hul aanhitsing en stelery.

Johann ·

Wharra wharra bla bla bla… en dink enige regdenkende logiese mens die alswetende ANC kaders gaan hulle aan n WOORD steur wat weer en steeds teen hulle met feite genoem word?

En verseker word hierdie verslae nie saam met CR se bakhand status by die buiteland genoem nie? Net so min as die WERKLIKE moord en doodslag statistieke… NARREPARADYS! ANC LEGACY

Attie No1 ·

Dit is als goed en wel, maar dit help niks. As ons een ding van die regering weet is dit dat as 10 verslae of naforsing stukke verskyn wat iets se waaarvan die Anc nie hou nie word dit geignoreer. As n Elfde verslag verskyn vol foute en wanvoorstellings en die Anc hou daarvan sal hulle eensklaps aanvaar.

Danie van Zyl ·

Ek kan nie verstaan hoekom die beginsel van voorkoming is beter as genesing nie deur die regime raakgesien kan word nie. Is dit as gevolg van `n tekort aan intellek of misdadigheid of plein gevoeloosheid. Al hierdie beginsels kan duidelik in die bybel gesien word. Daar is lank lank gelede `n vloek oor sekere nasies uitgespreek en in die moderne wereld met menseregte wat die bybel vervang het word hierdie patetiesheid deur die sogenaamde intelektueles in die libirale stal as norm gestel. PATETIES.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.