Handelsoorlog: SA in kruisvuur

Argieffoto

Ekonome het gewaarsku dat Suid-Afrika in die kruisvuur van die huidige handelsoorlog tussen die VSA en China vasgevang kan word.

Volgens ekonome is dit beslis nie goeie nuus vir die rand en die JSE nie. Ofskoon Suid-Afrikaanse maatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is, op kleinskaal aan Amerika blootgestel is, kan die impak van sy bande met China veral hulpbronne-aandele hard slaan.

Die ekonomiese navorsingsgroep NKC Research het in ’n ekonomiese opmerking aangevoer dat die rand verlede week tot ’n twee en half week laagtepunt teenoor die Amerikaanse dollar verswak het.  Die groep merk daarop dat die handelsoorlog tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë tans ontluikende markte strem.

Die groep sê dat nog ’n nadeel van die stryd die daling in kommoditeitspryse is. Suid-Afrika is een van die wêreld se grootste kommoditeitsuitvoerders met veral steenkool, ystererts en aluminium wat deur die handelsoorlog geraak kan word.

NKC Economics waarsku dat indien die handelsoorlog buite beheer raak, dit die wêreld se ekonomie kan demp.

“Dit kan dan op sy beurt stemming teenoor ontluikende markte benadeel. Suid-Afrika is in die spervuur en die rand kan hierdeur geraak word,” het die agentskap opgemerk.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede week aangedui dat produkte ter waarde van $100 miljard geïdentifiseer is waarop bykomende tariewe geplaas sal word. Dit bring die totaal op $150 miljard wat Chinese produkte raak weens die handelsoorlog.

China het egter teruggekap en gewaarsku dat hy enige maatreël sal teenstaan. China het reeds aangekondig dat hy tariewe van $50 miljard op Amerikaanse invoere gaan hef.

Trump het gister getwiet dat hy sy posisie gaan handhaaf totdat China handelsbeperkinge gaan verslap. Die handelsbeperkinge wat Trump oor baklei sluit verskeie lande, waaronder Suid-Afrika, in.

Na verwagting sal verskeie lede van Trump se ekonomiese span vandeesweek voor die Amerikaanse kongres oor die handelsoorlog getuig.

Commerzbank sê dat die rand ook gepootjie is deur aanduidings dat die ekonomie besig is om swakker te vertoon. Verlede maand het vervaardigingsgegewens swakker gevaar as markverwagtinge.

Volgens Commerzbank is daar nou kommer dat die ekonomie effens momentum verloor het sedert Cyril Ramaphosa as president aangewys is. Die bank wys egter daarop dat wonderwerke nie oornag gebeur nie, en dat die ekonomie teen ’n slakkepas sal verbeter voordat dit momentum kan optel.

Die rand, wat Vrydag oor die 12 rand vlak teenoor die dollar verswak het, het intussen vanoggend tot R11,97 verbeter.

Ontleders maan dat die handelsoorlog Suid-Afrikaanse verbruikers ook hard gaan slaan. Juis weens die impak daarvan op kommoditeitspryse en die swakker rand, is daar ’n onderverhandeling op brandstofpryse.

Teen Vrydag was die onderverhandeling op petrol sowat 34c per liter, op diesel 37c per liter en op lampolie 22c per liter.

Volgens ontleders kan Trump se handelsoorlog nie net Suid-Afrikaners se sakke hard ruk nie, maar kan dit ook lei tot die onwettige storting van produkte soos hoender, staal en motorbande in Suid-Afrika.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Genieve ·

Jy staan klaar met die geld in jou hande en jy kan nie eintlik iets koop nie want die waarde van die geld kan nie meer bepaal word nie.

Santie ·

Sal interessant wees om te sien hoe dit uitspeel. Ek volg verskeie van die Fox-kanale en Donald Trump self op Facebook om te sien en hoor wat President Trump self sê, nie derdehandse verslae daarvan nie. Volgens Trump hef China reeds jare lank handelsbeperkinge op VSA-goedere, daarom dat die VSA ‘n enorme handelstekort teenoor China het. Alles wat Trump doen, maak sin in die lig van sy “Buy American, Hire American” verkiesingsbeloftes. En die feit dat die res van die wêreld so ongelukkig is oor alles wat hy doen, bevestig dat hy doen wat hy beloof het, naamlik om Amerika eerste te stel. En diegene binne die VSA-kongres en -senaat wat hom teenstaan, doen dit klaarblyklik omdat hy ook hulle toegang tot allerlei kontantstrome buite hulle inkomste as staatsamptenare afsny. Baie van hulle word biljoenêrs uit die groot besighede wat hulle geldelik ondersteun in ruil vir voordelige wetgewing. Dis die “swamp” waarvan Trump praat. En die amptenare wat so waai, is diegene wat nie Trump se agenda ondersteun nie. Tillerson se State Department het Trump op allerlei maniere ondergrawe, dus koebaai Tillerson. En was dié ou kwaad! Omtrent gebewe van woede toe hy sy laaste spiets afgesteek het. Het ons maar ‘n leier soos Trump gehad! Reeds miljoene werksgeleenthede vir Amerikaners geskep en teruggebring sedert hy die leisels oorgeneem het. En beste van als, hy gee die nasionalistiese/konserwatiewe bewegings oral oor die Westerse wêreld moed.

Dankie ·

Dankie Santie jou kommentaar wat sin maak en jou pragtige Afrikaans . . .

marous ·

Chinese koop alles op vir ‘n paar sikkels wat in die korruptes se sakke beland . Hoef geen ekonoom te wees om te besef dat ‘n kruiwa vol papier geld nie eens ‘n brood gaan kan koop nie.

bgj van der westhuizen ·

wel hulle damp al klaar al hulle gemors in afrika

AJ ·

Honderde duisende poste is verlore vir Suid Afrikaners omdat die ANC Regering invoere uit China toegelaat het om ons eie industrië te sluit.

As die ANC regering vandag bv alle klere en tekstiele invoere verbied dan sal daar binne ‘n maand of twee derduisende werksgeleenthede geskep word deur die ou klerefabrieke weer in bedryf te stel.

Ons het miljoene poste verloor agv China invoere … soos Donald Trump ook nou besef en begin regstel.

Afrikaanse Knaap ·

Eers BTW, dan land wat gevat word, nou ‘n handelsoorlog… My Rande word elke dag minder werd.

Casper Labuschagne ·

As ek dit reg verstaan, dan plaas die VSA heffings op ingevoerde aluminium en staal en omdat die twee produkte hoofsaaklik van Sjina af ingevoer word, sal Sjina gevolglik minder bauxiet (die klei mineraal wat aluminium van vervaardig word) en ystererts benodig vanaf Suid Afrika. (Tensy ons self nou verwerkte staal en aluminium direk na die VSA kon uitvoer sonder om dit eerstens deur Sjina te stuur.)

Sjina slaan egter terug deur op hul beurt heffings op invoere vanaf die VSA te plaas soos varkvleis en hoender en die oorskotprodukte sal die VSA elders op die markte moet stort. Maar dan het Sjina ook oorskotprodukte wat hulle op hul beurt elders in die wêreld moet stort. Dus verloor ons na al die kante toe. (Tensy ons natuurlik self nou oorskot varkvleis en hoenderprodukte gehad het om na Sjina toe uit te voer.)

En om na al die kante toe te verloor en bloot ‘n speelbal van die groot lande te wees, is die lot van ‘n land wat soos Suid Afrika, binne twee dekades ‘n groot deel van sy vermoë om self te kan vervaardig, verloor het.

STANDUPANDBECOUNTED ·

Sjina het n onregmatige voordeel omdat hulle geen gewetensbesware het om kinderarbeid te gebruik nie. En daarby buit hulle nog arm ongeskoolde werkers uit deur hulle baie min te betaal. Dit is hoogs tyd dat die Sjinese gestop word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.