IMF sê SA het te veel strukturele probleme

IMF

Die IMF gesê Suid-Afrika sal dapper moet optree om die ekonomie die nodige hupstoot in 2018 te gee. Foto: Bnr.bg

Ekonome sê ernstige probleme staar die Suid-Afrikaanse ekonomie nog in die gesig.

Dit volg op die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se besoek aan die land. Ná die roetinebesoek, het die IMF gesê Suid-Afrika sal dapper moet optree om die ekonomie ʼn hupstoot te gee. Die IMF het te kenne gegee dat Suid-Afrika nog te veel strukturele probleme het.

Die IMF sal graag ʼn Suid-Afrikaanse ekonomiese groeikoers bo 2% wil sien. In die eerste kwartaal van vanjaar het die groeikoers met ʼn swakker as verwagte 2,2% gesink.

Volgens die IMF kan Suid-Afrika vanjaar ʼn hoër groeikoers haal. Die Washington-gebaseerde kredietmaatskappy sê egter dat dit nie genoeg sal wees om werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te spreek nie.

In wat as ʼn kritiese uitspraak beskou kan word, sê die IMF dat Suid-Afrika besondere groeipotensiaal het, maar het nie die afgelope vyf jaar munt geslaan uit ʼn verbetering in die wêreldekonomie nie. Ekonome skryf dit grootliks toe aan oudpres. Jacob Zuma se presidentskap en beweringe van staatskaping.

Die IMF skryf dit ook verder toe aan beleidsonsekerheid, wat die landkwessie insluit, asook Suid-Afrika se streng gereguleerde markte wat dit duurder en moeiliker maak om in hierdie land sake te doen.

In sy voorskou vir die wêreldekonomie het die IMF sy groeikoers vir Suid-Afrika tot 1,5% aangepas. Die organisasie sê van die probleme wat die land se ekonomie kan pootjie, rus op besteding en die staatsdiensloonrekening. Die IMF het te kenne gegee dat die staatsdiensloonrekening finansieringskostes kan laat styg en die groeikoers demp.

Intussen sê die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schussler, dat Suid-Afrika se staatsdiensloonrekening as persentasie van bruto binnelandse produk (BBP) onder die top20-lande ter wêreld val. Schussler sê gevolglik kan die regering nie op infrastruktuur bestee soos nodig is nie.

Hy sê teen 13,79% is dié Suid-Afrikaanse loonrekening baie hoog, selfs hoër as Namibië, Lesotho en Swaziland se loonrekeninge, wat ook reeds besonder hoog is.

In ryk lande soos Amerika en die Europese Unie beloop die staatsdiensloonrekening sowat 9,7%. En in wat as arm lande beskou kan word, is dit 6,3%.

Intussen het die ekonomiese agentskap NKC African Economics ook sy groeikoers vir die land afgegradeer.

Die agentskap verwag ook dat die ekonomiese groeikoers vanjaar 1,5% sal beloop. Dit teenoor sy vorige verwagting van 1,8%. Die groeikoers het verlede jaar 1,7% beloop.

Ekonome is ook bekommerd dat Eskom vanjaar op buitelandse en binnelandse markte staatsuitgifte gaan uitreik om die sukkelende staatsonderneming te ondersteun.

Ontleders sê dit gaan net nóg druk op die land plaas en kan die ekonomiese groeikoers lamlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Die kennis en kundigheid van die regerende party in die land skiet ver tekort.

Volkslied ·

Ek dink die land se volkslied moet verander word na “the neverending story”…

Black wolf ·

Met die regerende party aan bewind klink “Road to nowhere” van Talking Heads na die volkslied…..

ne ·

Wie kan in die land positief bly??? CR sal moet wakker skrik en iets probeer uitrig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.