Klasaksiegeding teen Steinhoff en Tongaat Hulett se vergoedingsbeleid verwerp

Argieffoto: ANA

Vandeesweek fokus ons op maatskappynuus van aandeelhouers wat ’n groot genoteerde maatskappy se vergoedingsbeleid afgeskiet het, en op nóg regsprobleme vir Steinhoff.

Die meubel- en klerekleinhandelaar Steinhoff is midde-in ’n klasaksie-regsgeding wat in die Suid-Gautengse hooggeregshof aanhangig gemaak is. Steinhoff het bykans R190 miljard van sy waarde verloor nadat ’n boekhouskandaal by die maatskappy oopgevlek is.

Die skandaal het oor verskeie kontinente versprei en sy bestuurshoof Markus Jooste het bedank nadat die skandaal wyd uitgekring het.

Die jongste regsgeding is deur aandeelhouers gebring. ’n Konsortium prokureursfirmas tree vir die aandeelhouers op. Dit sal die grootste klasaksie-regsgeding in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis wees, sou dit voortgaan.

Die geding stoot die aantal sake teen Steinhoff op weens die ongerymdhede met sy finansiële  verslae. Sy vorige voorsitter, Christo Wiese, dagvaar die groep vir R59 miljard.

Indien die jongste geding sou slaag, kan aandeelhouers tot R185 miljard van die beleerde maatskappy eis.

Daar is ook klasaksiegedinge in Duitsland en Nederland teen dié maatskappy ingestel.

Intussen het Steinhoff aangedui dat hy volgens die Amerikaanse wetgewing aansoek gaan doen vir beskerming teen bankrotskap. Die maatskappy het ’n kleinhandelteenwoordigheid in Amerika en beskou dit as ’n moontlikheid om deur sy huidige krisis te kom. Dit kan ook help met die kostebesnyding van uitgawes.

tongaat-hulett

Foto: Tongaat.co.za

Die suiker- en aluminiummaatskappy Tongaat Hulett het vandeesweek bloedneus op sy algemene jaarvergadering gekry.

Aandeelhouers het in oorgrote meerderheid teen die maatskappy se nuwe vergoedingsbeleid vir direkteure gestem.

Dit is die eerste keer dat ’n groot JE-genoteerde maatskappy se vergoedingsbeleid deur aandeelhouers verwerp is. Volgens die maatskappy se syfers het 59,36% aandeelhouers teen die mosie gestem. ’n Totaal van 40,64% aandeelhouers het die mosie ondersteun, terwyl 9,04% aandeelhouers buite stemming gebly het.  Altesame 89% van die maatskappy se aandeelhouers het aan die stemming deelgeneem.

’n Woordvoerder vir Tongaat, Michelle Jean-Louis, het gesê die een mosie waaroor gestem is, saam met nog ’n ander een, was nie bindend nie.

Die JE het in 2017 sy noteringsregulasies aangepas volgens die King IV-verslag en genoteerde maatskappye moet nou hul vergoedingsbeleid en pakkette op hul jaarvergaderings sal moet openbaar.

Die Openbare Beleggingskorporasie is Tongaat se grootste aandeelhouer met 14,24% van die aandeelhouding. Ander beduidende aandeelhouers sluit in, Allan Gray met 6,3% en PSG Asset Management met 5,95%.

Dit is die tweede agtervolgende jaar dat Alan Gray teen Tongaat se vergoedingsbeleid stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vraagteken ·

Hoe kan jy will eis teen ‘n maatskappy??? Dis mos deel van die risk vs. reward prosess? Glo my, al die mense wat geld gemaak het deur daar te belê kla glad nie.

Eish ·

Dit is verblydende nuus dat die oordadigheid van direkteursvergoeding op maatskappyvlak in die bek geruk word. In totaliteit uit verband.

Christo ·

Dit sal ‘n goeie voorbeeld wees vir ander bestuurshoofde as Markus Jooste wat boeke sou lekker gekook het tronkstraf opgelê word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.