Kleinhandel ervaar groter optimisme

Argieffoto.

Is kleinhandelverkope die hartklop van die Suid-Afrikaanse ekonomie? Dit blyk uit die jongste gegewens wat Statistiek Suid-Afrika gister uitgereik het. Dit word verder beaam deur die uitslae wat die kleinhandelgroep Pick n Pay vir die jaar tot Februarie vanoggend uitgereik het.

Die syfers van Pick n Pay sluit hul Kers- en Swart Vrydag-verkope in.

Statistiek Suid-Afrika se die jongste reële kleinhandelsyfers vir Februarie het op ʼn jaargrondslag met 4,9% gestyg. Dit het in Januarie 3,3 % beloop.

Die ekonomiese agentskap NKC African Economics sê dit was bó markverwagtinge en skryf dit toe aan ʼn verbetering in verbruikersentiment, lae inflasie, hoër verbruikerbesteding en laer brandstofpryse.

Maar die agentskap het sy kommer oor die sektor se vooruitsigte uitgespreek. Kleinhandelverkope was een van die glanspunte in 2017 se ekonomiese groeisyfers, oftewel die bruto binnelandse produk.

NKC wys daarop dat die seisoenale kleinhandelverkope-syfer wat in November met 24,7% en in Desember met 14,7% gestyg het, met 33,9% in Januarie verswak het.

Volgens die agentskap kan die uitblinker van verlede jaar se ekonomiese groei waarskynlik negatief draai. Dit word toegeskryf aan die 1% verhoging in belasting op toegevoegde waarde, hoër aksynsheffings en die brandstofheffing wat aan die begin van April ingestel is.

Die maatskappy meen egter dat laer rentekoerse, laer huishoudelike skuld en afplatting in verbruikersinflasie tot ʼn sewe jaar laagtepunt waarskynlik die sektor sal onderskraag.

Intussen het Pick n Pay vanoggend aangekondig dat sy omset vir die jaar R81,6 miljard beloop het.

Richard Brasher, die bestuurshoof, sê dat dit ʼn belangrike jaar vir die kleinhandelgroep was waarin gestreef is om bedryfskostes te sny. Hy het opgemerk dat produktiwiteit in winkels en in hul ondersteuningsdienste gestyg het.

Brasher sê dat Pick n Pay veral in die tweede helfte, wat Kersfees en Swart Vrydag ingesluit het, stewig presteer het. Hy sê die groep het ook daarin geslaag om kliënte terug te wen met sy laer pryse en promosie-veldtogte.

Hy sê die huidige werkplan waarop die groep konsentreer sy langtermyn-verdienste sal verseker. Sy verdienste per aandeel het met 7,1% tot 276,9 sent gestyg.

clicks-groep

Foto: Clicksgroup.co.za

Gedurende die afgelope finansiële jaar het die maatskappy ook R250 miljoen bestee op vrywillige afleggingspakkette. Die groep sê daar is aanduidings dat die afleggings ʼn sukses was omdat sy bedryfswins van 2,2 tot 2,5% gestyg het.

Pick n Pay bedryf ook die Boxer en BoxerPunch-winkelgroepe.

Pick n Pay se voorsitter, Gareth Ackerman, sê vooruitsigte vir Suid-Afrika lyk beter onder pres. Cyril Ramaphosa en dat optimisme in die land beter is as wat dit ʼn jaar gelede was. Hy sê dit word veral in die kleinhandel-sektor weerspieël.

Intussen het die skoonheids- en gesondheidshandelketting, die Clicks Groep, aangekondig dat sy tussentydse wins tot einde Februarie met 10% gestyg het. Sy verwaterde wesensverdienste het met 14,8% tot 266,3 sent gestyg. Clicks het aangekondig dat hy taai handelstoestande in die tweede helfte van sy finansiële jaar verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Met inflasie in berekening is dit feitlik geen groei nie. Indien nuwe winkels oopgemaak is, beteken die syfers nie veel nie aangesien dié se omsetsyfers saam met bestaande winkels se omset, n valse beeld van groei skep.

Ella ·

Nie by my winkels nie. Tuna en soutbeskuitjies R23 elk. Biltong R399 en R329 p/kg. Dalk moet ek by daai winkels gaan koop. Julle lieg lekker vir julself en vir ons.

John ·

Sjoe, net die kluitjies wat so lekker bruin gebak word, verkoop. P$P praat met ‘n gesplete tong; dank mense af en gaan nou weer skielik duisende aanstel… Wie is afgedank? Die groter optimisme is seker CR se wilde droom om die wereld te laat glo hy is die Wizard of Oz.

Andre ·

PNP moet ons assebleif laat weet wat hul “laer pryse” is, want as ek daar kom sien ek net ongelooflik hoë pryse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.