Maatskappye en myne se gemengde reaksie op sukkelende ekonomie

effektebeurs

Foto: Negative Space/Pexels.com

Beleggers kon vandeesweek weer op ’n dosis stewige maatskappynuus fokus. Dit het beleggers en markontleders op die Johannesburgse Effektebeurs (JE) leidrade gegee oor die stand van die ekonomie en maatskappye.

In wat as ’n skok beskou kan word, het Afrika se grootste kleinhandelgroep – Shoprite-Checkers – aangekondig dat sy wins vir die jaar tot Junie kwaai gestrem is deur hiperinflasie in Angola. Die groep het groot blootstelling in Afrikastate, insluitend Nigerië en Uganda.

Die groep het ’n styging van 3,3% in verkope tot R14,6 miljard aangekondig. Van die struikelblokke waarmee hy moes saamleef, sluit in die stygende en hoë inflasie in Angola, asook die 50%-devaluasie van die land se valuta.

Angola was een van die groep se staatmakers in die vorige finansiële jaar. Dit het tans 30 winkels in Angola en in vorige jare vir die grootste gedeelte van die Afrika (Suid-Afrika uitgesluit) finansiële bydrae gesorg. Vanjaar beloop dit net 13%. Volgens Shoprite is die groep se omset sonder Angola net 5.5%. Die groep se aandeel het in een stadium met 6,5% verswak ná die nuus uitgereik is.

Ofskoon bedrywighede by Checkers die groep in SA ’n hupstoot gegee het, meen ontleders dat die Shoprite-aandele waarskynlik tot laer vlakke hersien moet word.

Intussen berig die Financial Mail dat die grootbaas van Shoprite, Christo Wiese, se belastingaangeleenthede ondersoek word. ’n Bedrag van oor die R3 miljard is glo betrokke by die ondersoek.

Daar was egter ook goeie nuus wat ’n positiewe impak op die land se makro-ekonomiese omgewing kan hê. Statistiek Suid-Afrika sê die land se kleinhandelverkope het effens in Mei herstel.

Volgens die statistieke waghond het verkope op ’n jaargrondslag met 1,9% gestyg. Vir die drie maande tot Maart was dit 2,4% hoër. Ontleders meen dat die syfer waarskynlik die groeikoers vir die tweede kwartaal kan ondersteun.

Nog goeie nuus was die mynreus BHP se aankondiging dat sy ysterertsontginning in sy vierde kwartaal tot rekordvlakke gestyg het. Produksie vir die jaar het met 3% gestyg.

Ysterertsontginning het die by wêreld se grootste myngroep gedurende die kwartaal tot 72 miljoen gestyg. Vir die volle jaar het dit 275 miljoen ton beloop.

Die groep, wat in Sydney, Johannesburg en Londen genoteer is, sê dat hy voorsiening van $650 miljoen gemaak het vir die Samarco-dam tragedie in Chili wat in 2015 die lewens van 19 mense  geëis het.

En in nog goeie nuus op die mynfront: die wêreld se voorste platinummyner, Anglo American Platinum, en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het ’n gesamentlike vennootskap gestig. Die doel hiervan is om die vraag na platinum vir nywerheidsgebruik te stimuleer.

Anglo American Platinum sê die stap was genoodsaak deur die swakker prys van platinum. Beide die myngroep en die OBK sal elk sowat R1,3 miljard in die vennootskap belê. Die vennootskap se hoofdoel is om die vraag na platinumgroepmetale te stimuleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kara mia ·

die myne en maatskappye wat (blanke) werkers 55+ jaar oud aankla vir snert en afbetaal verdien om slegter as shoprite/checkers. as hulle voel die menae is te oud om te werk, sit her op pensioen. dis nie nodig om hulle aan te kla vir snert en af te dank nie. hulle is nod sterk en gesond en het die kennis om sie werk te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.