Minder poste ʼn teken van ʼn ‘sukkelende ekonomie’

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die Vereniging vir die Staal- en Ingenieursbedryf van Suider-Afrika (Seifsa) het Dinsdag gesê Suid-Afrika se indiensnemingstatistiek is ʼn teken van ʼn “sukkelende ekonomie” en is rede tot kommer.

Dit kom nadat Statistieke Suid-Afrika tydens sy kwartaallikse indiensnemingstatistiek bekend gemaak het dat indiensneming met 31 000 kwartaal-op-kwartaal gedaal het, van 9 620 000 in Junie 2017 tot 9 589 000 in September.

Dit beteken dat 31 000 poste verlore gegaan het tussen die tweede kwartaal en die derde kwartaal van 2017, ʼn 0.3% afname. StatsSA sê dit is grootliks toe te skryf aan die afname in gemeenskapsdienste, vervaardiging, mynbou, elektrisiteit, handel en sakedienste.

Michael Ade, hoofekonoom van Seifsa, het gesê StatsSA se data wys dat die vervaardigingsbedryf, waarvan die metaal- en ingenieursbedryf deel is, 0.4% van die algehele indiensneming, of minstens 5 000 poste, in die derde kwartaal van 2017 verloor het.

Ade het gesê die data bevestig ʼn direkte negatiewe korrelasie tussen indiensnemingsyfers en vervaardiging, aangesien maatskappye kies om van oortollige kapasiteit gebruik te maak met meer kapitaal in produktiewe prosesse.

Hy skryf die afname in indiensneming in die vervaardigingsbedryf grootliks toe aan onstuimige uitsette en strukturele uitdagings wat bedrywe beperk om voordeel te trek uit verhoogde wêreldwye aanvraag en om meer persone aan te stel.

“Ondanks die positiewe bydrae van die vervaardigingsbedryf tot ʼn verbetering in ware BBP-groei, wat 4.3% bygedra het in die derde kwartaal van 2017, lei die voordele nie tot ʼn toename in indiensneming nie,” het Ade bygevoeg.

“Dit is kommerwekkende syfers, gegewe die bestaande balans tussen indiensneming en ekonomiese groei. Dit werp lig op die behoefte vir verskeie benaderings tot die werkloosheidsprobleme wat deur Suid-Afrika in die gesig gestaar word. Indiensnemingsvlakke moet oor die algemeen toeneem of afneem na gelang van hoër of laer ekonomiese aktiwiteit, en die huidige indiensnemingsvlakke skets nie ʼn bemoedigende prentjie nie.”

Ade het gesê die afname in indiensneming vir die periode dui ook op ʼn verminderde plaaslike aanvraag en strukturele uitdagings in talle nywerheidsbedrywe.

Hy het gesê die land het dringend positiewe sakesentiment nodig, verbeterde verbruikers- en sakevertroue en verbeterde beleggersvertroue om nuwe beleggings te lok om poste te skep in vervaardiging oor alle bedrywe heen in die nuwe jaar.

Seifsa is ʼn nasionale vereniging en verteenwoordig 23 onafhanklike werkgewersverenigings in die metaal- en ingenieursbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hansie slim ·

En hoeveel arbeidsgeleentheide gaan nog verlore? Gaan die kiesers nooit “click” nie?

Chris Ws ·

My geld voel BAIE goed in my sak.Ons koop net noodsaaklikhede omdat pryse van alle goedere eenvoudig belaglik hoog is.Maw fabrieke gaan sukkel om hul produkte,veral luukser items,van die hand te sit.So hoe gaan hulle werk kan skep?Dit gaan nie gebeur nie.Se Dankie vir Zuma wat belowe maar niks gebeur nie.

Nouja ·

Gig.
Nee dis nie ‘n vloekwoord nie. Dit is slegs een vir die rekenaar en selfoon ongeletterdes onder ons. Dit is waar die toekoms van werk is, hoe gouer dit besef word hoe beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.