Moeilike tye vir die ekonomie lê voor

Ekonoom Mike Schüssler (Argieffoto: Skermskoot uit ’n EWN-video.)

ʼn Drie dubbele dosis van slegte nuus staar Suid-Afrika in die gesig. En dit kan dalk net die medisyne wees wat tot verdere afgraderings van Suid-Afrika se buitelandse skuld kan lei.

Mike Schüssler, die hoofekonoom by Economists.co.za sê ondanks verwagtinge, glo hy die eerste kwartaal ʼn negatiewe groeisyfer sal oplewer. Die syfer word oor twee weke uitgereik.

Schüssler grond sy skatting op mynbou, vervaardigingsgegewens en kleinhandelsyfers wat gedurende die kwartaal negatief was.

“Ons kan ons regmaak vir ʼn groot skok,” sê hy.

Op ʼn vraag het Schüssler te kenne gegee dat te veel ministers in die verkeerde portefeuljes opgeneem is. Hy sê dit lei tot beleidsonsekerheid.

Die politieke ontleder Daniel Silke is van mening dat realiteite nou die ekonomie vir eers gaan slaan ná die aanstelling van Cyril Ramaphosa as president. Hy sê sentimentgedrewe realiteite is nou iets van die verlede en Ramaphosa en sy ministers sal hul moue moet oprol.

Nog slegte nuus is Suid-Afrika se werkloosheidskoers. Die ekonomiese agentskap NKC African Economics se navorsers sê dat die land se werkloosheidskoers steeds te hoog is. Werksverliese was gedurende die eerste kwartaal veral swaar in die vervoersektor weens verhoogde brandstofpryse.

Die agentskap het ook sy kommer uitgespreek oor die sloerdery met die staatsdiens se loonooreenkoms.

Volgens die NKC kan dié loonooreenkoms ʼn risiko tot die begroting, en gevolglik die land se kredietgradering, inhou.

Daar word nog hare gekloof by die onderhandelingstafel waar vakbonde en die regering se looneise en -aanbiedinge nog redelik van mekaar verskil.

Een van die eise van kredietgraderingsmaatskappye is dat die begroting op belegging gefokus moet wees pleks van verbruik. Die staatsdiens se loonrekening word as ʼn verbruikersitem beskou.

Verskeie ekonome, insluitend Schüssler en die hoofekonoom by die Efficient Group, Dawie Roodt, het voorheen te kenne gegee dat die staatsdiens groot en lomp is. Die staatsdiens bied ook nie waarde vir die geld wat dit van belastingbetalers ontvang nie.

Volgens die NKC was daar een positiewe tendens in die werkloosheidsyfer – poste in die vervaardigingsektor het gegroei ondanks die feit dat die bedryf ook onder druk is. Die agentskap sê sonder inmenging, soos jeugsubsidies en ander dergelike regeringsingrypings, sal werkloosheid steeds hoog bly.

Volgens ekonome is die derde toets wat die regering kan druip, waarskynlik geldwaarborge vir Eskom en die SAL.

Gister het die nasionale tesourie bekend gemaak dat die SAL ʼn bedryfsverlies van R5,7 miljard vir die 2017/18-boekjaar gelei het.

Dit was erger as markverwagtinge. Volgens syfers van die nasionale tesourie is dit R2,9 miljard rand hoër as wat verwag is. Die tesourie het benadruk dat een kwessie wat die SAL se inkomste beduiwel, ʼn afname in die verkope van internasionale, streeks- en plaaslike kaartjies is. Boonop stoei die lugredery met ʼn wisselvallige wisselkoers wat brandstofpryse opjaag.

Ontleders is egter bekommerd dat die SAL en Eskom Suid-Afrika se kredietgradering negatief kan beïnvloed.

Boonop het die vakbond Solidariteit die hooggeregshof genader om die SAL onder ʼn sakereddingsplan te sit. Solidariteit argumenteer dat die SAL teen sy huidige bedryfsverliese nie as ʼn lopende maatskappy beskou kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

Maak die hoe koppe se salaris minder yoh die mense kry verskriklik n grootsom geld vir niks doen nie…dan sal dit miskien regkom en die wat so bedrog pleeg en nie die gelde terug betaal nie is ook n probleem want nou moet almal daaronder ly…kyk hoeveel gelde skuld die munisipaliteite vir eskom geld..Ha?

Eish ·

Die enigste geloofwaardige ekonoom.
Wanneer ek eers die vertrouendindeks se positiewe neigings belees en niks sien daarvan op die winkelvloer nie, wonder ek oor die akkuraatheid hiervan. Uiters subjektiewe meetinstrument.
Mnr. Schüssler se ore is op die grond is sy voorspellings soos Bybelprofessië. Die werklikheid, waardering daarvoor.

Rynhardt ·

Ekonomone moes van die begin af hul sterk uitgespreek het teen die dooie ekonomie.SA moes lankal by 10%ekonomiese groei gestaan het.Misdaad,florerende korrupsie(n wingewende bedryf),volharding met algehele radikale transformasie en onwettige transaksies laat SA stagneer!Oopgrense plaas verdere druk op land.Op E-Tv het die massas sopas vir pres.Ramaphosa gese:”We don’t want houses,we want farms!” Hmmm!Dit se alles!Skokke gaan toeneem in prysstygings!Alles gaan op elke gebied styg dat jy nie meer sal kan leef nie.Die tsoenamie van skokke kom!

riana ·

Ek stem saam met die ander oor SAL en Eskom en al die ander Ministers en mense hoekom moet hulle sulke hoe salarisse kry. Dit is belag wat doen hulle daarvoor en is dit nodig. En die geld wat hulle so bedrog mee gepleeg het moet van hulle pensioen gevat word. Temin is moet hulle terug betaal. Ons ander word dadelik afgedank as ons bedrog pleeg hkm bly hulle nog aan en laat hulle nog meer kan vat. Nee mense en kyk die Petrol dit is belaglik hoe moet mens by die werk kom en ons mag nie staak nie en ons salarisse in die motor bedryf is nie van die beste nie. Dan moet mens nog lewe nee wat die Land Suid Afrika is nie meer n land wat mens kan se ek is trots op my land nie.

Gideon ·

Ek dink te lank het ekonome probeer maak of alles wonderlik in hierdie land is!! ‘n Blinde kon met ‘n stok voel hoe gaan alles agteruit!!
Ek kan dink hoekom alles in die begin jare na ’94 so rooskleurig voorgekom het en dit is omrede daar links en regs geld beskikbaar gestel is aan elke JanRap en sy maat!! Mits jou velkleur natuurlik reg was.
Ek kan nog onthou hoe ek van een bank na die volgende gegaan het om te probeer geld leen vir my kinders se studies by ‘n Universiteit.
Daar is klere rekenings oopgemaak asof dit mode is!!!
Daar val alles toe plat want dit moet betaal word en nou word daar na ‘n slaansak gesoek en wie anders as die mense met grond want hulle is mos ryk!!! Nee ons is nie ryk nie, ons is nie toegelaat om geld links en regs te ontvang nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.