Murray & Roberts skop vas teen Aton se aanbod

Een van Suid-Afrika se oudste maatskappye, Murray & Roberts, skop vas teen ʼn aanbod van die Duitse maatskappy Aton.

Die Duitse maatskappy besit tans 29,9% van die ingenieursmaatskappy. Aton bied tans R15 per aandeel aan minderheidsaandeelhouers.

Ontleders sê die maatskappy is aanloklik vir buitelandse beleggers omdat dit die hoofaandeelhouer in die Gautrein is. Planne om die Gautrein-netwerk uit te brei, is reeds ver gevorderd.

Murray & Roberts is voorheen deur Sanlam beheer. Dit is egter een van talle maatskappye wat ʼn groot plaaslike aandeelhouer deur ontbondeling ontneem is.

Die maatskappy se woordvoerder, Eduard Jardim, sê die maatskappy se uitvoerende raad het Aton se aanbod van die hand gewys. Hy sê die aanbod van R15 is opportunisties en onderwaardeer die maatskappy.

Nog ʼn aandeelhouer, Allan Gray, het onderneem om sy aandele aan Aton te verkoop indien hy ʼn vaste aanbod daarvoor kry. Allan Gray besit 10,9% van Murray & Roberts en sou die transaksie beklink word, kan Aton se aandeelhouding 44% beloop.

Jardim maan egter dat Aton se aanbod tydens swakheid in die ingenieursektor op die JSE gedryf word. Hy voeg by dat die rasionaal wat Aton aanvoer vir die beoogde oorname swak is. Hy sê daar is verskeie struikelblokke wat Aton in die gesig staar, sou hy met die aanbod voortgaan.

Dit sluit in wetgewing rakende swart ekonomiese bemagtiging en hoe hy dit gaan hanteer. Nog ʼn probleem volgens Jardim sal waarskynlik belangekonflik wees, asook dat Aton sal moet besluit of hy Murray & Roberts gaan denoteer.

Volgens die aandelebeurs se reëls het Murray & Roberts ʼn onafhanklike hersieningsraad aangestel om die aanbod te bestudeer. Die raad bestaan uit onafhanklike direkteure van die maatskappy. Die hersieningsraad, onder die voorsitterskap van Sunesh Kana, het die aanbod verwerp.

Jardim sê Aton se aanbod kan ook onsekerheid onder aandeelhouers veroorsaak en tot ʼn uitgerekte proses lei.

Murray & Roberts bedryf operasies in Suid-Afrika, Mosambiek, Zambië en Ghana. Dit is ook bedrywig in Australië, Suid-Korea, Skotland, Amerika en Kanada.

Afgesien van die Gautrein, het Murray & Roberts ook belange in konstruksie. Hy is betrokke by die bou van Eskom se Kusile- en Medupi-kragstasies. Die maatskappy het ook ʼn belang in die staalwerkbedryf.

In die buiteland is hy betrokke by ondergrondse mynontwikkeling, gas- en olie-ontginning en by hawens.

Ontleders sê ondanks die slakkepas waarteen die Suid-Afrikaanse ekonomie groei, maak die Gautrein-netwerk en sy buitelandse operasies die maatskappy ʼn goeie teiken vir buitelandse maatskappye.

Pogings om kommentaar van die Gautengse LUR vir vervoer, Ismail Vadi, te kry het misluk. Saam met Murray & Roberts is die provinsiale regering die grootste aandeelhouer in die Gautrein.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Slagyster ·

Ja-nee Aton, beter so want die SEB is ‘n lelike slagyster om in te trap . . .

Kannaland ·

Stadig mense, stadig met sulke groot investeringsplanne. Die regering wil eiendom vat en dit gaan totale chaos en die einde van die ekonomie van die land beteken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.