’n Onverwagse hupstoot vir SA ekonomie in eerste kwartaal

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n onverwagse hupstoot gekry. Die Buro van Ekonomiese Navorsing by die Universiteit Stellenbosch se die First National Bank (FNB) se kwartaallikse verbruikersvertroue-indeks het tot sy hoogste vlak sedert 1985 gestyg.

Die indeks het met 26 punte gestyg en die vorige hoogte, wat in die eerste kwartaal in 2007 bereik is, die loef afgesteek. Toe het die indeks met 23 geklim.

NKC African Economics sê dit was die grootste kwartaallikse styging in verbruikerssentiment. Dit is die eerste opname wat gedoen is ná die ANC se nasionale kongres in Desember wat gelei het tot die verkiesing van Cyril Ramaphosa as die land se president. Die verandering in politieke leierskap van Jacob Zuma na Cyril Ramaphosa het die land duidelik ’n hupstoot gegee. Onder Zuma, wat onder ’n skadu van staatskaping en swak bestuur geloop het, het vertroue oor die algemeen verswak.

Volgens NKC het die veranderinge in politieke leierskap ook ’n positiewe uitwerking op verbruikers gehad en dit is duidelik dat ekonomiese verbeteringe nou verwag word.

NKC sê van die faktore wat verbruikersentiment ’n hupstoot gegee het, was die skerp styging in die rand se wisselkoers teenoor die Amerikaanse dollar, die gepaardgaande daling van bykans R1 per liter petrol tussen middel November en einde Februarie, die dalende pryse van ingevoerde produkte soos meubels en elektroniese goedere  en die hernieude optimisme wat in die sakesektor waargeneem is. In die eerste kwartaal is veral duursame goedere aangekoop.

Die aankondiging oor gratis tersiêre onderwys het ook sentiment ’n hupstoot gegee.

Volgens NKC het verbruikersentiment oor alle inkomstegroepe en rassegroepe gestyg. Boonop het verbruikers se vooruitsigte ook skerp verbeter.

In 2017 het die indeks tot sy laagste punt ooit gedaal. Volgens NKC het die vorige drie jaar in negatiewe terrein geboer en die politieke verandering het sentiment ’n groot hupstoot gegee.

NKC sê die verbetering is merkwaardig as in ag geneem word dat dit ná die begroting gedoen is.

Intussen sê die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) dat die indeks 1 400 sakelui dek – ’n bykomende 140 in die bousektor en 1 000 mense in die vervaardigingsektor.

Die BEO voeg by dat, gebaseer op verkope, bestellings, indiensneming, inventarisse en verkoopspryse, die optimisme van bestuurders by maatskappye skerp gestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Grondhonger ·

Gee net kans tot my my grondlus oorgeneem het, dan praat ons weer . . .

Duitser ·

Wag tot Presedent Trump die vsa se bakhand toelaag stop dan kyk ons weer

HPV ·

Die laagste vlak sal ook onder Cyril se bewind bereik word met sy grondbeleid wat grens aan diefstal.

Mrs H ·

Moet nie opgewonde wees nie, dis bloot omdat mense die BTW en baie ander verhogings probeer vryspring het. Kyk maar waarheen rocket brandstof pryse?!

Oom Ekonoom ·

Hans, jy is in goeie geselsskap. Ek en ander wat weet bevraagteken die metodes en interpretasie van die ekonome wat hierby betrokke is.

Casper Labuschagne ·

Ek kan dit verduidelik. Die ekonomie is oorgehaal om te ontplof met groei en investering en die ekonomiese hupstoot is vanweë optimisme oor Zuma se uittrede. Wat die ekonomie egter beperk en sakevertroue knel is die regulasies van die regering wat BEE en regstellende aksie betref, arbeidsonrus, vervalle infrastruktuur, die ideologie van die regerende party asook die beduidende opkoms van ekstreme linkse radikalisme.

Aan die pluskant is die hulpbronne daar en ‘n stewige mark vir produkte bestaan binnelands asook in die res van Afrika. Kortom is alles daar vir Suid Afrika om ‘n ekonomiese reus te kan word, maar dit sal slegs gebeur as vertroue in die toekoms herstel word en as beperkinge op die vrye mark grootliks opgehef word. Ek twyfel egter of dit ooit onder die huidige regerende party sal gebeur. Krediet is niks anders as ‘n stelsel van vertroue in die toekoms nie, en die feit dat SA rommelstatus bereik het weerspieël presies hoe min vertroue daar in die land se toekoms bestaan onder die huidige regerende party.

Die glans van Ramaphosa is verslaan egter snel – ‘n gesoute bolsjewis verander allermins nie in ‘n kapitalis omdat hy ‘n miljarder geword het uit regstellende aksie nie, dit bly eenvoudig ‘n gesoute bolsjewis met ‘n stewige bankrekening en ‘n blink motorkar.

Vermeendes ·

Die Cyril wittebrood is ook nou verby want die Rand sak stelselmatig terug, belasting verhoogings van die begrotingsrede skop nou eers in en die uitwerking sal eers na 6 maande begin duidelik word.
Hierdie opname is hoopeloos te vroeg gedoen en weerspieël eerder die desperate wense van die naiewe publiek.

Oom Kalahari ·

@Hans, ek glo jou ek is in jou klas en jy maak ‘n beter Ekonoom en uitleg. Hierdie is en gaan meer plaasvind as ANC verkiesings foefies tot aanloop van 2019 vekiesings. Hou die opgehemelde spasies dop in die volgende paar maande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.