’n Tikkie goeie nuus vir die plaaslike ekonomie

IMF

Die IMF is deesdae positief dat die plaaslike ekonomie op die herstelpad is. Foto: Bnr.bg

Daar was ’n stuk goeie ekonomiese nuus vir Suid-Afrika vroeër hierdie week. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sê ondanks die ekonomiese afplatting in die eerste kwartaal, is die ekonomie op die herstelpad.

Die IMF voorspel dat beide Suid-Afrika en Nigerië se ekonomieë gaan herstel wat Afrika suid van die Sahara ’n goeie inspuiting sal gee. Die IMF sê die ekonomie sal oor die res van die jaar verder verbeter en voorspel ’n groeikoers van 1,5%.

Volgens die IMF is dit die styging in kommoditeitspryse wat die groei sal aandryf.

Intussen sê ’n ontleder dat president Cyril Ramaphosa onder enorme druk is oor die ekonomie wat wankel. Dit is die mening van Maarten Ackerman, hoofekonoom en ’n adviserende vennoot by Citadel.

Volgens Ackerman is die stand van die ekonomie grootliks ’n kwessie van die nalatenskap van die Zuma-administrasie wat Ramaphosa geërf het. Hy wys daarop dat die eerste kwartaal se ekonomiese groei van minus 2,2% swak was en dat daar aanduidings is dat die tweede kwartaal ook swak gaan wees.

”Mynbouproduksie, kleinhandelverkope en vervaardiging het tot dusver in die tweede kwartaal ’n swak prentjie geskets. Daar is ’n sterk moontlikheid dat ons nog ’n negatiewe kwartaal kan kry wat die land in ’n tegniese resessie kan plaas,” het hy gesê.

Ackerman voeg by dat dit nie goeie nuus vir Ramaphosa sal wees nie. Hy maan egter dat die swak omgewing waarin die land se ekonomie hom tans bevind, nie voor Ramaphosa se kop gegooi moet word nie.

Hy sê Ramaphosa het reeds verskeie veranderinge deurgevoer en die  vrugte hiervan sal eers in 2019 of 2020 gepluk kan word.

“Dit gaan lank vat om die volle impak van die veranderinge te sien wat Ramaphosa ingestel het sedert hy president geword het.” het Ackerman bygevoeg.

Ackerman sê dat finansiële markte en opposisiepartye hom aanspreeklik sal hou vir die stand van die ekonomie. Volgens hom het Ramaphosa se beleidsrigting meer tyd nodig om vrugte te dra.

Hy wys daarop dat dit nie net ekonomiese probleme is wat Ramaphosa in die gesig staar nie.

“In aanloop tot die 2019-verkiesing moet hy ook politieke kwessies oplos soos die konflik binne die ANC in KwaZulu-Natal.”

Daar is egter slegte nuus vir verbruikers. Ackerman sê dit is moeilik vir Ramaphosa om in te gryp om verbruikers se las te verlig. Hy sê brandstofprysverhogings, die BTW-aanpassing en ’n kleiner-as-gewoonlik-verhoging op Sassa-toelaes, verbruikers gepootjie het.

Volgens Ackerman is verbruikers in ’n strik en kan nie in die jaar wat voorlê verligting verwag nie. En hy sê dat enige beleidsverandering om beleggings, ekonomiese groei en ’n beter omgewing vir verbruikers te skep, oor die lang termyn gaan geskied.

“Ongelukkig is die enigste ding wat Ramaphosa nou kan doen, is om sy 10 punt- ekonomiese plan en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) in werking te stel om die ekonomie te stimuleer en ekonomiese groei bo 2,5% te kry.”

Ackerman sê dit is juis weens nalatenskapkwessies dat die ekonomie sukkel. Hy wys daarop dat die ekonomie onder president Jacob Zuma van 5% tot bykans 0% verswak het.

Hy voeg by dat Ramaphosa die regte stappe gedoen het, soos die skoonmaak van staatsbeheerde ondernemings en die aanstel van die regte mense by die nasionale tesourie.

Ackerman waarsku egter om sake en verbruikersvertroue te herstel, deur indringend na die grond-kwessie en die Mynbouhandves gekyk moet word. Boonop sê hy dat die wêreldekonomie tans sukkel, wat ’n demper op ons uitvoere plaas.

Hy sê dat Ramaphosa hom nie aan faksies binne die ANC of opposisiepartye moet steur nie.

“Hy moet liefs sy oë op die bal hou om positiewe resultate te lewer.”

Hy sê indien daar deeglik aandag aan hierdie vraagstukke gegee word, dit tot groter vlakke van buitelandse beleggings kan lei. Volgens Ackerman kan dit dan tot oplossing vir strukturele probleme in die ekonomie en werkskepping lei.

Hy is egter positief dat die ekonomie kan herstel. Ofskoon die land ’n hoër groeikoers as 2,5% nodig het, voorspel hy groei van 1,8% vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.