’n Tikkie goeie nuus vir Steinhoff

Argieffoto: ANA

Die kleinhandelmaatskappy Steinhoff het aangekondig dat sy verkope vir die nege maande tot einde Junie met 2% gestyg het. Die positiewe nuus was grootliks te danke aan ’n stewige vertoning van sy Suid-Afrikaanse kleinhandelgroep Pepkor.

Uitslae van bedryfsoperasies uit Europa en Amerika was swak. Die maatskappy is ook in ’n taai stryd gewikkel met die vorige bestuur van Tekkie Town, wat eersdaags Mr Tekkie van stapel gaan stuur. Dit kan na verwagting Pepkor se winste knou.

Verskeie klasaksie-regsgedinge staar Steinhoff ook in die gesig weens die finansiële skandaal wat die maatskappy verlede jaar getref het. Die voormalige voorsitter, Christo Wiese, het ’n eis vir R59 miljard ingestel. Suid-Afrikaanse aandeelhouers eis ook nagenoeg R100 miljard.

Steinhoff se bestuur is tans besig met ’n grootskaalse opruimingspoging nadat die boekhouskandaal die maatskappy op die afgrond van bankrotskap gelaat het. Sy aandeelprys het ook ineengestort nadat sy bestuurshoof, Markus Jooste, bedank het.

Daar is verwagtinge dat Jooste waarskynlik lig sal werp oor die skandaal wanneer hy Woensdag voor drie portefeuljekomitees van die parlement, insluitend dié van finansies, sal verskyn.

Jooste se regspan het egter met die parlement tot verskeie bepalings en voorwaardes ooreengekom. Ontleders meen dat dit hom gaan weerhou om die volle verhaal van die Steinhoff-skandaal bloot te lê.

Steinhoff het verlede maand ’n broodnodige lewensboei gekry toe krediteure ooreengekom het om skuldeise vir drie jaar terug te hou. Dít nadat die maatskappy bevind het dat sy finansiële syfers vir ’n paar jaar foutief was en waarskynlik aangepas is om goed te lyk.

Steinhoff se bedryf strek na verskeie lande, insluitend Nederland, waar dit geregistreer is.

Behalwe Pepkor, sluit van sy buitelandse handelsmerke Poundland in Brittanje in en Matress Firm in Amerika in.

In ’n verklaring het die maatskappy gesê dat sy bestuurspan nou gefokus is om stabiliteit in die maatskappy te vestig, om die herstruktureringsplan saam met die groep se krediteure te finaliseer en bestuur op alle vlakke te verbeter.

Vrydag het Steinhoff se aandeleprys met 3,17% gestyg. Dit het die maatskappy op R12 miljard op die JE gewaardeer. Dit was baie ver van die waarde van R200 miljard waarteen die maatskappy gewaardeer was voor sy ineenstorting.

Steinhoff het intussen gedurende die afgelope nege maande sowat R170 miljard van sy bates afgeskryf. Dit terwyl hy deur die finansiële skandaal probeer verwerk het.

Die ondersoek word deur Price WaterhouseCoopers gedoen nadat ongerymdhede in Steinhoff se boeke wat tot 2015 strek, gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leonora ·

Sou Markus Jooste / Guptas enige sake verbintenis hê…. Te veel geld, pensioenfondse, ondergrondse bedrog …. Het iemand al die moontlikheid ondersoek?

Henk ·

Steinhoff, Bosasa, transnet, Escom, noem maar op. Oral is korrupsie. Jooste, Watson, en daar duik die naam Cheeky weer op. Hoe het hy korrupsie in die OP ontduik? Hoe bly Jooste klagtes van korrupsie en bedrog ontduik? En steeds sorg SA banke vir die manne!? Of is dit omdat hulle deel van die SA Elite click is?

marous ·

Maak nou asseblief die bedrae bekend wat die pensioen fondse kwyt is , met spesefieke klem op die staatsdiens .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.