Oorlog in Sirië ook slegte nuus vir die rand

sa-geld-note

Foto: Sharonang/Pixabay.com

Die rand en veral Suid-Afrikaanse verbruikers gaan aan die kortste ent trek weens die VSA se volgehoue aantygings oor chemiese wapens wat in Sirië gebruik is in die oorlog teen rebellemagte.

Boonop waarsku ekonome dat brandstofpryse skerp gaan styg weens die politieke ontwikkeling wat pryse oor ʼn breë front kan laat styg. Hulle waarsku dat dit verbruikersinflasie kwaai kan aanblaas.

Dit is die mening van verskeie ekonome wat hul kommer uitgespreek oor die jongste getrompetter van die Withuis oor chemiese wapens wat in Sirië gebruik is. Die afgelope naweek het die VSA, Brittanje en  Frankryk missielaanvalle op beweerde Siriese chemiese opslagplekke geloods.

Volgens Dawie Maree, ʼn ekonoom by Eerste Nasionale Bank, het buitelandse faktore ʼn direkte invloed op die land se ingevoerde inflasie. Hy wys daarop dat dit ʼn uitwerking op ander pryse sal hê wat verbruikers – wat reeds in ʼn hoekie gedruk is – nog verder in hul sakke sal moet laat krap om goedere en dienste te bekostig.

Maree sê behalwe dat die wisselkoers verswak, styg die prys van ru-olie wat tot ʼn hoër brandstofprys in Mei kan lei. Hy waarsku dat dit niks goed inhou vir verbruikersinflasie nie.

Die situasie is Sirië word verder beduiwel deurdat Rusland, sy bondgenoot, by die regering staan en gewaarsku het oor maatreëls wat teen Amerika, Frankryk en Brittanje beplan word.

Die hoofekonoom by die Efficient Groep, Dawie Roodt, sê terwyl sake op die plaaslike front begin stabiliseer het, gaan buitelandse faktore nou die grootdryfveer wees wat die wisselkoers en inflasie beinvloed. Hy het veral kommer uitgespreek oor die rand se vooruitsigte, inflasionêre druk en stygende brandstofpryse.

Roodt se dit is duidelik dat die politieke temperatuur rondom Sirië gestyg het en ʼn aantal ekonomiese faktore laat wankel het. Hy wys egter daarop dat die styging in ru-oliepryse ook die goudprys ʼn hupstoot sal gee.

ʼn Senior ekonoom by NKC African Economists, Elize Kruger, sê dat die rand verlede week wipplankgery het. Sy sê dat die plaaslike geldeenheid net soos ander ontluikende markte se valuta deur die oorlog in Sirië gepootjie word. En sy voeg by dat die huidige praatjies rondom Sirië nie juis veel help nie met beleggers wat na veilige beleggings soek.

Volgens Kruger het die rand die week swakker afgesluit nadat die Amerikaanse dollar verstewig het weens pres. Donald Trump se dreigement van militêre aksie teen Sirië.

Sy sê die verswakking in die rand se wisselkoers kan nadelig vir Suid-Afrikaners wees. Kruger wys daarop dat internasionale ru-oliepryse skerp gestyg het en dat dit in die brandstof-vooruitsig vir Mei weerspieël word.

Petrol kan tussen 38 sent en 39 sent per liter styg. Diesel kan met 45 sent per liter verstewig, terwyl lampolie met 35 sent per liter kan styg. Dit kan brandstofpryse tot ʼn nuwe rekordvlak dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marous ·

Rob , hulle sal moet steenkool terug invoer vanaf hul Chinese pelle …

Gerhard ·

Ek twyfel of dinge erger kan word as die huidige volskaalse burgeroorlog. Rusland het geen vermoë om enige maatreëls teen die VSA, VK of Frankryk instel nie. Dit is tweede-wêreld streeksmag. Die gemiddelde Rus kry ‘n salaris van R8000/maand en 15% leef onder die broodlyn. Die stelling is belaglik.

Just saying ·

We are so deep in the dwang, I don’t think it can get any worse than what it all ready is.

Attie No1 ·

Genugtig maar julle is darem pessimisties met n stelling dat dit nie slegter kan gaan nie. Ek is baie meer optimisties, dit kan altyd baie slegter gaan en dit sal tien teen een.

Waarheid ·

Die slegste ding vir die randjie is die huidige korupte regering!!!!

jan ·

Ek stem saam met Rob,Jare terug toe ek nog jonk was ,het die regeering gevra vir Ekstra geld om SASOL te bou sodat ons nie so afhanklik moet wees oor buitelandse Petrol nie.Dit lyk vir my SASOL voer sy petro uit aan al die buitelande niks,niks kom na ons LAND toe nie.WAAR TREK N MENS DIE STREEP.Is dit nie n bietjie waard.onregverdig teen ons gewoone mense nie.

JSG ·

Die SA regering moet meer begin dink aan sy eie mense en minder aan hul eie sakke. Ons land het die vermoë om heeltemal op ons eie te oorleef sonder die buiteland. Sanksies in die verlede het dit bewys, maar toe word die land mos oorgegee aan mense wat nie kan regeer en wie byt die kortste spit af? Beslis nie die regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.