Pensioentrekkers vuisvoos vir skande op skande by VBS

Argieffoto.

Terwyl die legkaart rakende die bedrog by die Limpopo-gebaseerde VBS Mutual Bank vinnig besig is om uit mekaar te val, het die parlement se portefeuljekomitee oor polisie gevra dat die Valke sy ondersoek na die instelling moet voorkeur gee.

Die bank, het vir die eerste keer in die kollig gekom het nadat hy oudpres. Jacob Zuma ’n verband voorsien het om sy skuld te delg ingevolge die vorige openbare beskermer, Thuli Madondsela, se Nkandla-verslag.

Die bank is weer eens geruk deur verskeie ongerymdhede wat die beweerde diefstal van meer as R1 miljard beloop.

Die komitee beoog ook om die Valke vir ’n volle verslag te vra wanneer die parlement in Augustus van sy reses terugkeer.

Die komitee se voorsitter, Francois Beukman, sê dat witboordjiemisdaad in die finansiële sektor ’n negatiewe effek op ekonomiese groei en deposante se vertroue het.

Intussen het druk op die VBS Bank toegeneem.

Die Openbare Beleggingskommissie (OBK) het aangekondig dat hy ’n forensiese ondersoek gelas het na die bank. Die ondersoek sal op twee direkteure van die OBK fokus wat glo betrokke is by ernstige aantygings oor die bank.

Een van die direkteure, sy regshoof Ernest Nesane, het verlede week bedank weens die aantyginge oor sy betrokkenheid. Die staatsbeheerde batebestuurder het die bedanking aanvaar.

Die doel van die ondersoek is om vas te stel of enige OBK-amptenare betrokke was by die ineenstorting van die bank. Die OBK besit ’n aandeel van 25% in die VBS Bank. Die bank is in Maart deur die Reserwebank in kuratorskap geplaas ná wydverspreide berigte oor diefstal en bedrog, waarin van sy direkteure en hul politieke konneksies baat gevind het.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy stem bygevoeg by dié wat die wydverspreide diefstal veroordeel het.

Intussen het die vakbondfederasie Fedusa aangekondig dat hy druk gaan uitoefen dat die twee OBK-direkteure strafregtelik vervolg moet word.

Fedusa se hoofsekretaris, dr. Dennis George, sê die twee direkteure, Paul Magula en Nesane nie net krimineel vervolg moet word nie, maar ook as oortreders van die Maatskappywet beskou moet word. ’n Klagte hiervolgens word oorweeg.

Hy het ’n beroep op die OBK gedoen om streng op te tree teen dié twee.

Intussen het die drukgroep die Vereniging vir die Monitering en Bevordering van die Staatsdienswerknemerspensioenfonds sy kommer oor die gebeure by VBS Bank uitgespreek en waarom die OBK betrokke by die bank is.

In ’n verklaring sê die groep dat die jongste onthullings oor gebeure rakende die twee senior OBK-lede wat op die VBS se direksie gedien het, nie eens meer skok nie.

“Pensioentrekkers en werkers  is al te vuisvoos van skande op skande.  Hulle het al gewoond geword daaraan dat daar roekeloos met hul pensioengeld omgegaan word en dat niks daaraan gedoen word nie,” het die groep bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zoom zoom ·

As dit enige van die ander banke in SA was wat dit gedoen het was SA nou in vlamme gewees.

Tammy ·

Net gewonder, het VBS Bank op die massamark gefokus of het hy ook die deursnee klientebasis soos die ander 5 groot banke in S.A gelok? Dis is n geroot terugslag vir al die kliente of jy nou gaan sukkel om jou geld terug te kry en of jy moet wag…..
Weet iemand op watter mark hulle gefokus het, ek is nogal nuuskierig?

Plantasiegorilla ·

Dankie Vader dis nie een v die banke wat Jan v Riebeeck hier aangebring het nie.

A P Stemmet ·

Dankie vir die berig teveel pensioentrekkers glo nog nie dat daar groot fout by die Gepf en Obk is nie . Nou moet die Wet op die Voorkoming en Beheer van Korrupsie van2004 toegepas word.Almal wat by die korrupsie betrtokke was, daarvan geweet het en selfs vermoed het, moet nou aangekla word. . ALMAL.
A P Stemnet : Segsman Anagp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.