Ramaphosa se bondgenote kap gronddebat en mynbouhandves

Trevor Manuel. Foto: ANA

President Cyril Ramaphosa is waarskynlik die afgelope week deur twee van sy sterkste bondgenote gestonk.  Beide oudminister van finansies Trevor Manuel en die voorsitter van AngloGold Ashanti, Sipho Pityana, het onderskeidelik sterk woorde oor die gronddebat en die mynbouhandves gehad.

Die minister van hulpbronne, Gwede Mantashe, se mynbouhandves wat nou op die tafel is, is as roekeloos beskryf.

Beide omstrede kwessies is deur verskeie ekonome gekap. Van die felste kritiek het van Mike Schüssler, hoofekonoom by economists.co.za en Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group gekom.

Ekonome was dit eens dat die twee episodes politieke spel waarskynlik beleggings na Suid-Afrika sal laat afneem en knou. En noudat kritiek uit Ramaphosa se binnekring kom, meen ontleders dat hy dit nie kan ignoreer nie.

Manuel, wat as ’n beleggingsgesant deur Ramaphosa aangestel is, sê die huidige gronddebat bemoeilik hul taak om Suid-Afrika aan buitelandse beleggers te verkoop.

In ’n deurtastende onderhoud met die plaaslike finansiële media, het Manuel gesê dat baie beleggers bekommerd oor die radikale voorstelle is. In Februarie het die ANC saam met die EFF gestem om grond sonder vergoeding te onteien.

Manuel wat saam met die oudbestuurshoof van Standard Bank, Jacko Maree, die sakevrou Phumzile Langeni en die voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, opdrag deur Ramaphosa gegee is om $100 miljard vyf jaar te lok, sê dit is ’n moeilike taak gegewe die grondkwessie.

Volgens Manuel is beleggers veral bekommerd dat die gronddebat mense se eiendomsreg kan benadeel. En dit hou ook niks goed vir die finansiële sektor of voedselsekerheid in nie.

“Dit is baie moeilik om met beleggers hieroor te kommunikeer,” het hy laat blyk. Die parlement is tans besig om openbare verhore oor die kwessie te hou.

Manuel sê dat artikel 25 van die Grondwet juis daar geplaas is om eiendomsregte te beskerm. Hy sê die Wet gee ook toe dat sommige mense grond op ’n onregverdige wyse bekom het.

Hy voeg by dat die regering erken dat landbougrond belangrik vir voedselsekerheid en inkomste-generering is. Maar hy sê die grootste uitdaging is om grond vir stedelike uitbreiding te verseker. Hy sê dit is waar die groot vraag na grond is.

Intussen het Pityana nie doekies omgedraai nie. Hy het reguit gesê die mynbouhandves is roekeloos opgestel. Hy sê dit kan beleggers van Suid-Afrika weerhou indien dit toegepas word.

Pityana sê die handves, wat veronderstel is om die voordele van mynbou gelyk onder Suid-Afrikaners te verdeel, bied nie werkbare oplossings nie.

Hy sê die mynbousektor gaan gehul onder stygende insetkostes en dalende edelmetaalpryse. Hy sê dit het baie myne genoop om van hul arbeidsmag af te lê. En dit is juis waarom die sektor beleggings nodig het, het hy bygevoeg.

Volgens Pityana is die huidige voorstelle, soos deur Mantashe voorgelê, daarop gemik om die mynbousektor dood te wurg. Hy het ’n beroep op Mantashe gedoen om na bedryfsrolspelers te luister.

Volgens Pityana het Mantashe gefouteer deur sy voorganger Mosebenzi Zwane se handves as leiding te gebruik.

Hy sê die mynbousektor het beleggers desperaat nodig, maar in sy huidige vorm skrik die handves hul af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LouE ·

Die peoples het klaar grond geruik. Nou gaan dit moeilik gaan om die bul se kop gedraai te kry. Miskien is dit tog nou tyd om bietjie moed te skep?

Eish ·

Ons sal maar moet wag en kyk hoe die werklikheid sy beslag in hul beleid gaan kry.
Die honger na mag voer die botoon ten koste van die land en sy mense.
Anargie is reeds binne sig.

Anoniem ·

Nee, wat ! JAAG die beleggers weg na waar die toestande gunstiger is om ‘n bestaan te maak ! Zimbabwe is net oor die grens maar Julle wil die wiel vir ‘Grondbesit’ oor ontwerp Wrange vrugte sal Julle oes Mense wil neti hori ???

Snowball ·

Die ANC in sy huidige vorm skrik almal af…ek lag lekker vir die 100 millard $. Wonder wie het dié bedrag formuleer? Is dit die bedrag wat nodig is vir die ANC se voortgestte korrupsie?

Geen ·

Geen manier dat ek en vele ander net van ons eiendom sal wegloop nie.

Lou ·

Afrika sal nooit leer uit sy eie foute nie. Hulle moet elke keer die wiel probeer herontdek al weet almal dit gaan nie werk nie…..

Grassie ·

Daar is geen vooruitsig dat Ramaphosa van sy planne sal afsien nie. Hy het ‘n belofte aan die peoples gemaak en as hy nou begin water trap gaan hulle van hom ontslae raak. Hy wil dit in elk geval ook doen – hy het gesê dat hy daardeur ” our people” wil vergoed vir die “pyn” wat hulle gely het weens die verdrukking en onteiening deur die witman. Hy weet dat dit die ekonomie gaan knou maar, in tipiese Afrika-styl, weeg ideologie baie swaarder as finansiële voorspoed.

Afrikaanse Knaap ·

Dis te laat. The chickens are coming to roost. Ramaphosa moet maar sy sekuriteit begroting verhoog. Sy ongeleide revolusie is oppad. Snel.

Alida ·

CR moet ‘n slag luister na die ekonome en nie sy eie kop volg nie. Hy gaan hard val.

Willie ·

CR se people is arm en hy is skatryk, kom ons kyk of hy sy plaas ook gaan prysgee..of skrinkane langs sy plaas sal laat bly, om sy goed te plunder.. of kos een van sy buffels meer as Nkandla?

Inus Bester ·

“Hy sê die mynbousektor gaan gehul onder stygende insetkostes en dalende edelmetaalpryse.”

Boegenoemde moet eerder lees: “Hy sê die mynbousektor gaan GEBUK onder stygende insetkostes en dalende edelmetaalpryse.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.