‘Regering misluk klaaglik in hele Eskom-episode’

Khulu Phasiwe, Eskom se nasionale woordvoerder, het op Twitter foto’s gedeel van betogers wat voorwerpe brand en paaie afsper op 14 Junie 2018. Foto: Twitter via @KhuluPhasiwe

Dit is onwaarskynlik dat die regering enige plan het om die staatsdiens wat deur verskeie ekonome, graderingsmaatskappye en ander rolspelers as te groot en lomp beskou word, gou sal sny.

Dit is die mening van die hoofekonoom by die Efficient Group, Dawie Roodt, na aanleiding van die loongeskil wat hom tans by Eskom uitwoed.

Nadat die kragvoorsiener se raad teen enige verhogings besluit het, het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, ingegryp om wel ’n loongesprek aan die gang te kry.

Roodt sê dit is duidelik dat die Eskomraad se besluit was om die kragvoorsiener se kontantvloei te verbeter. Hy gee toe dat vakbonde se klagte oor wanbesteding en staatskaping geldig is. Maar Roodt meen dat finansiële dissipline nodig is om die beleërde kragvoorsiener reg te ruk.

Hy wys daarop dat Eskom se onmiddellike vereiste die besparing van kostes moet wees. Roodt betreur die feit dat die regering ingegryp het.

“Unies het duidelik getoon dat hulle die grofgeskut het om die regering tot ’n ander deuntjie te dwing. Dit is nie goed nie. Hiervoor gee ek president Cyril Ramaphosa ’n nul. Die regering het klaaglik misluk met die hele Eskom-episode,” het hy gesê.

Intussen het die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schussler gewaarsku dat die “rampokkery en beweerde sabotasie” by Eskom-kragsentrales wat sedert Donderdag tot beurtkrag gelei het, waarskynlik ‘n demper op beleggingsentiment en sakevertroue kan lei.

“Dit kan ook daartoe lei dat die tweede kwartaal negatiewe groei kan toon. Dit sal dan die weg baan vir ’n tegniese resessie,” het hy gesê.

Schussler meen die regering moes ’n meer proaktiewe rol gespeel het om vakbonde vas te vat. Hy glo dat die unies die regering gewys het wie baas in die ekonomie is.

Volgens Roodt toon die regering se houding dat hy bang is om unies te vervreem vanweë hul alliansie met ANC – die land se regerende party.

“Daar is ’n verkiesing volgende jaar. Die ANC het interne probleme en vakunies buit dit uit,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat dit die regering in ’n swak posisie plaas.

“Iewers gaan die regering moet besef dat die probleem nie net tot Eskom beperk is nie. Hy gaan aan die staatsdiens moet sny of hy daarvan hou of nie. En dit is duidelik dat president Ramaphosa nie ’n idee het hoe om te werk te gaan nie,” het Roodt gesê.

Terwyl die loononderhandelinge vir vandag beplan word, is verskeie kwessies wat deur die vorige Eskom-rade nog in ’n ondersoekfase. Dit sluit in hoe die kragvoorsiener die Gupta-beheerde Oakbay Resources and Energy gehelp het om die Optimum-steenkoolmyn by Glencore te koop.

Sommige ontleders beskou die transaksie as onwettig. Die vorige minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane was glo nou betrokke by die onderhandelinge. Steenkoolaankope van die Guptas se Koornfonteinmyn word ook ondersoek weens die swak gehalte daarvan. Die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde word by die ondersoek betrek weens die verslae oor die steenkool wat hy uitgereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KP ·

Ek het dit al gese en se dit weer toe daar soos wat hulle dit noem ” gainsharing” toelaes van derduisende rande elke jaar (party jare meer as die werker se bruto maandelikse selaris) bo en behalwe hulle 13de tjek aan Eskom werkers uitbetaal is deur die staatkaper bestuur het niemand gekla nie. Sit al daardie geld by huidige selaris en hulle het alreeds n groot verhoging gekry. Hulle het netsowel ook gedeel in staatskaping so moenie nou huil nie.

Ray ·

Lankal gese as daar stakings is, moet die regering vir die Unies se as hulle hulle lede aanmoedig om te staak, moet hulle ten minste 40% van die werker se basiese salaris dek. Wonder of die Unies so maklik sal stakings verklaar as dit hulle sake raak, want die enigste verloorders in die sake is die werkers en verbruikers, en as daar nie meer geld is nie, dan moet die verbruiker nog meer opdok.

Annelize ·

Die regering misluk klaaglik, ongeag die departement of instansie. PUNT.

marous ·

Die land is gebreek en anargiste heers . Daar is geen ekonomie ter sprake nie. Die belastingbetaler se spaarvarkie is stukkend gefoeter en nou wil die korruptes die klere van hul lywe afrokkel . Waarom vertel hulle nie reguit waar die geld geleen word net om die plek in stand te hou nie? Want hulle weet dan brand alles oornag.

Alida ·

Wat het julle verwag? CR is tjoepstil hy soek stemme vir 2019 maar dink ook nie aan die gevolge nie. Slim vang sy baas een of ander tyd.

Colleen ·

Wat het hy nou al anyway vermag van hy aan bewind is? Soos sy voorlopers……NIKS

zoom zoom ·

SA word regeet deur vakbonde. Die regering van die dah is maat net daar vir die geld en voordele.

Anoniem ·

Ons het vir Margaret Thatcher nodig om die unies uit te sorteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.