Sibanye-Stillwater kan Lonmin red mits …

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Die platinummyngroep Lonmin sê dat hy sowat 12 600 mynwerkers oor die volgende twee jaar kan aflê indien die Mededingingskommissie gaan sloer met ’n aansoek dat die groep saam met Sibanye-Stillwater uitgekoop word.

Sibanye-Stillwater het reeds van Anglogold se platinumbates gekoop en die ligging by Rustenburg pas hom dus goed.

Sibanye-Stillwater wat grootliks op goudmyne konsentreer, het reeds verlede jaar aangedui dat hy Lonmin se bates wil bekom. Lonmin het sedert die vyf maande lange staking by sy skag in Marikana in 2013 nog nie herstel ne.

Ontleders sê indien Sibanye-Stillwater goedkeuring vir die transaksie verkry, hy die Lonmin operasies kan vernuwe.

Die Lonmin se uitvoerende hoof, Ben Magara, sê dat indien die transaksie nie binnekort geskied nie, baie poste verlore kan gaan.

In die groep se jaarverslag wat Maandag uitgereik is, sê Magara dat die huidige wisselkoers ook tot die toename in werksverliese kan lei. Die rand het weer kop opgetel nadat Amerikaanse ekonomiese gegewens verlede week teleurgestel het.

Sibanye-Stillwater het reeds ’n aansoek by die Mededingingskommissie ingedien om sy aanbod vir Lonmin te oorweeg. Sibanye-Stillwater het ontstaan nadat Goldfields sy Suid-Afrikaanse belange van dié in die buiteland geskei het.

Volgens Magara het daar reeds vanjaar 2 000 poste in die slag gebly en daar kan nog 1 700 poste vanjaar in die gedrang wees.

Volgens die maatskappy se vooruitsig kan daar in 2019 ’n verdere 5 300 poste in die slag bly, met moontlik nog 3 600 afleggings in 2020.

Sibanye-Stillwater se belegging in Lonmin kan na verwagting die mynbousektor ’n hupstoot gee.

Lonmin het reeds in 2017 sy operasies by die Nommer 1-skag onder instandhouding geplaas. Die skag sluit in Newman en 1B. Die maatskappy het in Maart Skag 2 ook onder instandhouding geplaas wat beteken die meerderheid werkers word dan afgedank.

Magara sê dat 50% van die afleggings grootliks weens oortollige poste was en die ander 50 persent deur skagsluitings.

Ontleders sê dat die drama wat nou by Lonmin uitspeel, deel van die Mynbou-handves se doelstellinge is om onsekerhede uit die weg te ruim.

Die hoof-ekonoom by die Efficient Groep, Dawie Roodt, het in ’n vroeëre onderhoud met Maroela Media, gesê die regering se rompslomp ly tot werksverliese.

Die mynbousektor val onder Gwede Mantashe, maar sy kollega by Ekonomiese Ontwikkeling, minister Ebrahim Patel, het die laaste sê of die mynwerkers se toekoms veilig sal wees.

En die rompslomp het Dinsdag skerp in fokus gekom nadat Statistiek Suid-Afrika die kwartaallikse arbeidsmag-gegewens aangekondig het. Die werkloosheidsyfer vir die eerste kwartaal van 2018 het op 26,7% gebly. Die derde kwartaal van 2017 het dit sy hoogste vlak in jare bereik deur tot 27,7% te styg.

Intussen sê Lonmin se finansiële hoof, Barrie van der Merwe, dat elke werknemer ’n afleggingspakket van ongeveer R200 000 sal ontvang.

Hy sê Lonmin verwag dat die moontlike transaksie met Sibanye-Stillwater in die tweede helfte van die jaar voltooi kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Mededingingsraad bestaan nie. Eintlik Mededingingskommissie wat aanbeveling maak na Mededingingstribunaal.

Tania Heyns ·

Dagsê Koos

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, dit is inderdaad die Mededingingskommissie. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.