“Geliefde” boer en vrou vermoor

Johan Fourie (71) en sy vrou, Cecile (72), is Sondag op hul plaas Knoppe, naby Trompsburg, aangeval en vermoor.

Die boeregemeenskap van Trompsburg, in die Vrystaat, is in skok en ongeloof oor dié bekende en geliefde egpaar se moord, berig Volksblad. Die egpaar is omstreeks 20:00 in die slaapkamer van hul huis op hul plaas aangetref. Hulle is albei geskiet. ʼn Bron het aan die koerant gesê daar was baie bloed van die sitkamer tot in hul slaapkamer.

Na wat verneem word, het die aanvallers die egpaar ingewag nadat hulle vroeër die middag by hul seun en skoondogter in Trompsburg gaan eet het. Die vuurwapenkluis was glo oopgebreek.

Volgens kaptein Harry Nagel, ʼn polisiewoordvoerder, wil dit voorkom of die aanvallers deur ʼn badkamervenster toegang tot die huis verkry het. Nagel sê twee klagtes van moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Hulle was baie vriendelike mense wat nie ’n vlieg sou skade berokken nie. Die hele dorp is geskok,” het die bron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.