Geliefde rugbykommentator sterf skielik

Die gewilde Willie Los’e. Foto: Twitter.

Huldeblyke stroom in ná Willie Los’e se skielike dood op die vooraand van die Seweswêreldbeker-toernooi in Kaapstad.

Die 55-jarige Los’e, wat onder meer vir North Harbour,  Nieu-Seeland se o/21’s en Tonga se nasionale span uitgedraf het, was deel van Sky Sports New Zealand se kommentatorspan vir die komende sewesskouspel.

Sy familie het die nuus van sy afsterwe aan ʼn “mediesverwante oorsaak”  in ʼn verklaring bevestig.

“Ons vra dat ons tyd gegun word om nie net die groot verlies te verwerk nie, maar ook om deur die logistieke reëlings en repatriasie van ons broer, pa en seun te werk. Ons wag op verdere besonderhede van Kaapstad.”

Die legendariese Frank Bunce, wat die All Blacks in meer as 50 toetse verteenwoordig het, het klubrugby saam met Los’e vir Auckland en North Harbour gespeel.

“Dit was baie jare terug, maar Willie was een van die ouens met wie ek in kontak gebly het. Eintlik was hy die dryfveer agter alles – hy was die ou wat almal bymekaar vir reünies en kuiers gekry het. Op die ou einde was dit die ding wat hom so uniek gemaak het. Hy het so baie vir ander omgegee,” het Bunce gesê.

Greg Clark, die Australiese kommentator, het ook sy meegvoel betuig.

“Daar is baie wonderlike herinneringe van ons kommentaarwerk in die seweswêreldreekse. Hy is te vroeg van ons weggeneem,” het Clark getwiet.

In ʼn onderhoud voor sy dood het Los’e gesê dat sy eerste toets vir Tonga tydens die 1995-Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika een van die hoogtepunte van sy rugbyloopbaan was.

“Dit was teen Frankryk op Loftus Versfeld in Pretoria. Ek het gehuil toe ons die volkslied gesing het en ek het net gewens dat my ouers nog gelewe het om die spesiale oomblik saam met my te deel,” het Los’e gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Dink net hoeveel erger dit sou gewees het as hy NIE die inenting gekry het nie

JD ·

VaalDonkie weer 100% in die kol.
Tog bly die oë van die skapies toe.

Tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.