‘Gemanipuleerde foto van Kaboel-bomaanval onaanvaarbaar’

Die illustrasie wys die oorspronklike foto van AFP (bo) en die foto wat The Citizen op sy voorblad geplaas het. Maroela Media het wel die lyke waserig gemaak aangesien dit van 'n baie grafiese aard is.

The Citizen sê ʼn digitaal gemanipuleerde foto van Dinsdag se selfmoordbomaanval in Kaboel, Afganistan wat Woensdag op sy voorblad verskyn het, is per ongeluk verkeerd gemanipuleer.

Martin Williams, redakteur van die dagblad, sê in ʼn verklaring daar is besluit om die foto van AFP te manipuleer deur die lyke op die foto waserig te maak aangesien dit te gruwelik was om in die oorspronklike vorm te publiseer. Die lyke op die foto’s is egter heeltemal uit die foto verwyder. “Weens die grafiese aard van die Kaboel-foto, het ons besluit om die lyke waserig te maak. Om die lyke heeltemal te verwyder is egter onverskoonbaar en ons erken dat dit nooit moes gebeur het nie.” Die Nasionale Persklub het vroeër in ʼn verklaring gesê die manipulering van nuusfoto’s is teen die reëls van etiese joernalistiek. “Ons glo die Citizen moes eerder ʼn ander foto gebruik het indien hulle nie die lyke op die foto wou publiseer nie,” het Antoinette Slabbert, woordvoerder van die Persklub, gesê. Die voorval is wyd op sosiale media bespreek.

Agt Suid-Afrikaners is in Dinsdagoggend se bomaanval dood. Die slagoffers is Christian Johannes Justus Pretorius (30) van Pretoria, Fraser Angus Carey (31) van Johannesburg, Brandon Quinn Booth (47) van Balgowan in KwaZulu-Natal, Johan Abraham van Huyssteen (31) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, Johan Frederick Bouchaud (30) van Johannesburg, Johannes Judenis Humphries (65) van Centurion, Steven Leong (31) van Johannesburg en Jenny Margaret Ayris (46). Die selfmoordbomaanval het sowat 2km van die lughawehek plaasgevind. Die bomaanvaller, glo ’n 20-jarige vrou, is ook dood. Die bestuurder van die motor, ʼn grondbemannigslid en ʼn omstander is ook onder die oorledenes. Die selfmoordbomaanvaller het glo met ʼn wit motor vol springstof teen die Suid-Afrikaners se bussie vasgery. ’n Afgaanse insurgensiegroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die aanval was glo uit wraak vir ‘n Amerikaans vervaardigde rolprent wat die profeet Mohammed verkleineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae