Gemeenskap staan op teen wildstropery

Diere soos vlakvarke en koedoes word in strikke gevang in die Buffelsdrift-bewarea

Die gemeenskap van die Buffelsdrift-bewarea, noord van Pretoria, het ʼn projek aangepak om wildstropery hok te slaan.

Volgens Dicks Dietrichsen, lid van die AfriForum Kameeldrift-Oos tak, is wildstropery ʼn geweldige probleem. ʼn Groot deel van die oplossing lê egter by die gemeenskap. “Die omgewing en sy dierelewe is ons erfenis. Dit is ons verantwoordelikheid om op te staan vir dié wat nie ʼn stem het nie. Wildstropery is krimineel en diegene wat hulle daaraan skuldig maak, sal ook so hanteer word,” het Dietrichsen gesê.

Die gemeenskap van Buffelsdrift het hande gevat en die omgewing strategies gepatrolleer. Tydens die patrollies is op verskeie strikke, sommige met die dooie diere nog daarin vasgevang, afgekom (sien foto’s aangeheg).

AfriForum moedig gemeenskappe aan om proaktief te raak rondom die kwessie van wildstropery. “Waar moontlik, moet gemeenskappe deelneem aan soortgelyke projekte sodat gebiede meer intensief gepatrolleer kan word om dit vry van strikke te maak,” het Dietrichsen gesê.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om daadwerklik op die uitkyk te wees vir strikke op kleinhoewes en plase en om dit te verwyder,” het Dietrichsen gesê.

AfriForum en die Buffelsdrift-bewarea bedank diegene wat aan die projek deelgeneem het opreg. Dit sluit lede van die Suid-Afrikaanse Polisie se Landelike Beveiligingseenheid, Tshwane Metropolisie se berede eenheid, Gauteng Natuurbewaring, lede van Praesidium Buurtwag, inwoners van die Bewarea, asook lede van die gemeenskap van buite die bewarea in.

AfriForum gaan verdere ondersoek instel om wildstropery in die area te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.