Gemeenskap staan saam ná brandtragedie

Argieffoto

Skaars twee dae nadat die Pfister-gesin van Centurion al hul besittings in ʼn huisbrand verloor het, het ʼn gemeenskap saamgestaan en gesorg dat hulle weer kos, klere en ʼn dak oor hul kop het.

“Ek kan vir jou sê, dit is alles net so oorweldigend hoe die mense saamstaan,” het Pieter Pfister Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Volgens Pfister het die brand Saterdagaand in hul huis in Wierdapark uitgebreek. Dit is nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie. Pfister, sy vrou Bets, en hul twee seuns kon daarin slaag om ongedeerd te ontsnap, maar Bets se broer, Jaap (55), het ernstige brandwonde opgedoen toe ʼn yskas langs hom ontplof het. Jaap het later in die Kalafong-hospitaal aan sy beserings beswyk.

“Ons vriende en die mense van ons gemeente, die Hervormde Kerk in Swartkop, was net ongelooflik in die moeilike tyd, en die mense dra nog al die pad goed aan,” het Pfister bygevoeg. Die egpaar het ʼn ten volle gemeubileerde huis en alle benodighede ontvang. ʼn Familievriend, wat anoniem wou bly, het egter gesê die gesin het nog hulp nodig om veral skoolbenodighede vir die kinders aan te skaf.

Ds. Adriaan Roets, leraar by die Hervormde Kerk Swartkop, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die gemeente het ʼn trustrekening gestig vir mense wat die gesin finansieel wil bystaan. Mense wat ʼn finansiële bydrae wil lewer kan ʼn e-pos stuur na [email protected] om die rekeningbesonderhede te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.