In teenstelling met berigte dat pres. Robert Mugabe van Zimbabwe glo om sy lewe veg in ʼn hospitaal in Singapoer, het ʼn lid van Zanu-PF gesê dat “hy ʼn Paasvakansie saam met sy gesin in Asië geniet”, berig News24.
Luidens The Zimbabwe Mail, het ʼn lid van Zanu-PF ontken dat Mugabe ʼn gesondheidsnoodgeval gehad het, en het laat blyk dat hy Woensdag na sy land sal terugkeer. “Die president is met Paasvakansie, soos almal. Hy sal dié week terug wees op sy pos, teen dieselfde tyd as dié mense wat uit hul eie vakansie-plekkies wonder waar hy is,” het hy glo gesê. Maar berigte hou vol dat die leier intensiewe behandeling in Singapoer ontvang het, en dat hy tans om sy lewe veg.
Die beleërde 88-jarige het op 31 Maart vir ʼn “private besoek” na Singapoer vertrek. Sy raadgewers het laat weet dat Mugabe die reis sal gebruik om reëlings te tref vir sy dogter, Bona, wat met haar nagraadse studie wil begin nadat sy verlede jaar ʼn graad in rekeningkunde by die universiteit van Hong Kong verwerf het. Mugabe, wat Zimbabwe reeds sedert sy onafhanklikheidswording in 1980 regeer, het Singapoer verlede jaar agt keer besoek. Sy woordvoerder het gesê die besoeke was onder andere vir katarak-sjirurgie of eenvoudig private besoeke, te midde van mediaberigte dat hy kanker het. Sy gesondheid was talle kere al die besprekingspunt, veral sedert WikiLeaks verlede jaar ʼn Amerikaanse diplomatieke berig van 2008 bekendgestel het waarin sentrale bankhoof Gideon Gono aan die Amerikaanse ambassadeur, James McGee, sê dat Mugabe prostaatkanker het en dat hy glo minder as vyf jaar oor het om te leef. Mugabe se gesondheid word as een van die redes aangedui waarom ʼn splintergroep van sy Zanu-PF-party herverkiesing wil haas.