Gemengde reaksie oor matriekslaagsyfer

Minister Angie Motshekga tydens die bekendmaking van die 2013 matriekslaagsyfer. Foto: GCIS/SAPA

Minister Angie Motshekga tydens die bekendmaking van die 2013 matriekslaagsyfer. Foto: GCIS/SAPA

Die matriekslaagsyfer vir 2013 is met gemengde reaksie ontvang.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag aangekondig dat die 2013 matriekslaagsyfer 78,2% is. Volgens die DA word noodsaaklike aanwysers soos die aantal leerlinge wat vir hoër onderwys kwalifiseer, die slaaggehalte en die aantal leerlinge wat wiskunde en wetenskap geslaag het verbloem deur slegs op die slaagsyfer te fokus. “Sommiges sien die matriekslaagsyfer as ʼn rede om fees te vier maar ons glo dit is rede tot kommer,” het Annette Lovemore, woordvoerder van die DA, in ʼn verklaring gesê. Sy sê die slaagsyfer is nie ʼn geloofwaardige maatstaf vir die kwaliteit van onderwys nie.

Die ANC het die slaagsyfer verwelkom. “Die uitslae reflekteer nie net ʼn toename in die aantal skole wat slaag nie maar ook die slaaggehalte,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die party in ʼn verklaring gesê. Die ANC het die Vrystaat en Noordwes gelukgewens met hul eerste en tweede plek prestasies. Mthembu sê daar moet meer gedoen word om die onderwysstelsel te verbeter.

Die vakbond Solidariteit het die matrikulante van 2013 gelukgewens en gesê ʼn matrieksertifikaat is die beginpunt vir voorbereiding op ʼn blink loopbaan. Solidariteit het die groep jongmense aangeraai om, indien dit enigsins moontlik is, gedurende 2014 verdere opleiding te kry om sodoende hul toetrede tot die arbeidsmark verder te vergemaklik. Die vakbond sê sy navorsing toon dat werksgeleenthede en loopbaansukses deur goeie opleiding bepaal word. Solidariteit het verlede jaar se matrikulante versoek om positief te bly en hul verseker dat daar ʼn blink toekoms op hulle wag indien hulle hard werk en hulself deur opleiding bemagtig. Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê hoewel dit bemoedigend is dat daar ’n verbetering is in die persentasie matriekleerlinge wat geslaag het, dit eintlik die verkeerde aspek is om op te fokus. “Die deurvloeisyfer vanaf graad een tot matriek bly baie laag, met slegs 34% van die nagenoeg 1,2 miljoen graadeens van 2002 wat in 2013 matriek geslaag het.”

Volgens Joubert lê die grootste probleme in die skoolstelsel voor matriekvlak. Dit is veral leerlinge se taalvaardighede, wat begrip insluit, en syfervaardighede waarvan die standaard nie na wense is nie. “Die departement van basiese onderwys laat leerlinge jaarliks toetse aflê om te bepaal op watter vlak die vaardighede van leerlinge in die laer grade in skole is. In 2013 het slegs 2% van die graadneges in hierdie toetse meer as 50% vir syfervaardighede behaal, terwyl slegs 17% meer as 50% in ’n addisionele taal behaal het. Hierdie uitslae toon waarom so min leerlinge uiteindelik matriek slaag – die groot probleem lê nie in die matriekjaar nie, maar in die skooljare voor matriek.” Solidariteit het wel sy gelukwensing uitgespreek teenoor die handjievol goeie skole in die land wat midde die talle uitdagings steeds onderrig van hoogstaande gehalte vir leerders bied.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê intussen dit is dringend noodsaaklik dat die minister en haar departement aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos handboeklewering, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, disfunksionaliteit van skole en ʼn gebrek aan moedertaalonderrig die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basie B ·

Ongeag die slaagsyfer vra ek net “waar in die arbeidsmark gaan hierdie mense n bestaanbare inkomste genereer ?

Sarie van Niekerk ·

Dit bly maar pateties dat studete net 30% nodig het om te slaag!! Dit is mos nie kennis nie!! As jy net 30% van iets weet dan beteken dit dat jy steeds 70% nie weet nie, so die slaagsyfer is regtig nie iets om oor opgewonde te raak nie. Ek moet hier met prof. Jonathan Jansen van die Vrystaatse Universiteit saamstem. 30% slaagsyfer is nie ‘n prestasie, om te oordeel of die onderwysstelsel regtig slaag moet die slaagsyfer minstens 50%.

AmY ·

Wel, mens het deesdae mos net 30% nodig (tale uitgesluit) om ‘m vak te slaag, so die hoë slaagsyfer ‘verbaas my nie’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.