Gemengde reaksie oor valstande vir modelletjies

Argieffoto: Toddlers & Tiaras

Rolspelers en deelnemers in Suid-Afrika se skoonheidsbedryf het gemengde reaksie oor die gebruik van Flippers, oftewel valstande vir kinders.

Dit blyk uit die hoeveelheid kommentaar wat ontvang is sedert Maroela Media Dinsdag berig het dat ʼn kenner en beoordelaar in die bedryf bekommerd is oor groeiende tendense wat veroorsaak dat Suid-Afrikaanse modelkompetisies vir kinders in “sirkusse” ontaard.

Die kenner meen die bedryf beweeg al hoe meer in dieselfde rigting as die Amerikaners, wat dié kompetisies heeltemal uit verband ruk. Sy het veral verwys na die werklikheidsreeks Toddlers & Tiaras wat in Amerika vervaardig word en op DStv uitgesaai word, waar ouers so ver gaan om hul kinders te verfraai dat hulle soos regte porseleinpoppe lyk. Op die program word dogtertjies grimeer, hulle kry haarverlengings, hul velle word verbruin en van hulle dra Flippers.

Grimering word nie in die ouderdomsgroepe van 4 tot 6-jariges en 7 tot 9-jariges toegelaat nie, maar haarverlengings en verbruinde velle, word wel toegelaat. Maroela se bron het veral gevoel dat die gebruik van Flippers in Suid-Afrikaanse modelkompetisies, nou die laaste strooi is. Flippers kan teen sowat R2 500 van tandartse aangeskaf word.

Gail Cronjé, die eienaar van Toddlers & Tiara’s SA, sê hulle veroordeel die gebruik van grimering en Flippers, of dat enige kind enigsins misbruik word. Sy het egter beklemtoon dat haar besigheid, wat in Benoni gebaseer is, glad nie Flippers verskaf of met die gebruik daarvan assosieer wil word nie. “Ons verskaf items soos krone en ‘sashes’ en doen ook opleiding. Ons besigheid distansieer onsself met enige beweerde misdrywe in die bedryf,” het sy aan Maroela Media gesê.

ʼn Maroela-leser, Adel, skryf meeste beoordelaars gee nie ekstra punte vir kinders met haarverlengings of Flippers nie, en hulle trek ook nie punte af vir kinders met skewe tande of tandjies wat weg is nie. “Plaas eerder die kollig op ouers wat beoordelaars probeer intimideer sodat hul kinders moet wen of wat organiseerders sleg praat as hulle kind derde kom, want die kind wat tweede gekom het ‘is te lelik’,” het sy gesê.

Sorita Pieterse, nog ʼn leser wie se dogtertjie die huidige Miss Tiny Queen of the World 2013 is, sê Suid-Afrika se modelbedryf is nie naastenby soos Toddlers & Tiaras nie.“Die rokkies en uitrustings wat die kinders dra is baie inspirerend vir ons mammas. My dogtertjie is tans ses jaar oud en is ‘n model vandat sy drie jaar oud was. Sy het ‘n rits titels agter haar naam. By geen kompetisie waar ons deelgeneem het, was dit toelaatbaar dat die dogtertjies onder die ouderdom van 12 grimering mag dra nie. Nêrens in die reëls van enige kompetisie staan daar ander uitsluitings behalwe grimering nie. My dogter maak gebruik van Flippers omdat sy ‘n probleem met haar melktandjies het,” het Pieterse gesê. Sy sê haar dogter het altyd breed geglimlag maar dat haar tandjies nooit sigbaar van die verhoog af was nie en sedert sy Flippers dra word haar “pragtige glimlag nou raakgesien”. “Ek as ouer sal enige iets in my vermoë doen om die beste vir my kind te kan gee, en as dit beteken ons het ‘n voorsprong dan is ek trots daarop.”

Die meeste deelnemers voel organiseerders sal in die toekoms in die reëls moet spesifiseer of Flippers, haarverlengings en produkte wat ʼn mens se vel verbruin toegelaat mag word.

Lees ook:
Suid-Afrika se eie ‘Toddlers & Tiaras’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blertsie ·

Dis net siek! Skoonheidskompetisies vir kinders is belaglik!!!

Erika ·

Biertsie ek stem!! Die arme kinders word die voorreg ontneem om kind te wees!! Hulle word RYP gedruk en beplak van te make-up, hoe gaan hierdie kinders oor 10/15 jaar van nou af lyk!! Dit is siek verby.

Nickie ·

“Flippers” is baie gevaarlik. Kinders kan dit insluk en as dit vir te lank gedra word, belemmer dit die ontwikkeling van die permanente tande, wat waarskynlik dan skeef sal uitkom, en dan is dit draadjies en baie pyn. ‘n Kind moet speel en leer deur speel. “My kind wil deelneem” – want die kind sien die ma glimlag en kinders wil alles doen vir ouers se goedkeuring. As die ma meer sou glimlag en lag terwyl die kind modderkoekies bak, dan sou die kind wou modderkoekies bak. Party ouers besef nie hulle manipuleer hulle kinders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.