Gemoedere loop hoog by Dasnois-betoging

Alide Dasnois

Alide Dasnois

ʼn Groep oproerige betogers, wat Dinsdag ʼn beplande betoging in Kaapstad oor die beweerde afdanking van Alide Dasnois ontwrig het, is gewaarsku om óf te verdaag óf inhegtenisneming in die gesig te staar.

ʼn Polisiebeampte het aan lede van die Beweging vir Transformasie in die Media van Suid-Afrika (MTMSA) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) gesê hulle het nie aansoek gedoen vir toelating om te betoog nie.

Nadat die beampte die groep van 150 mense gewaarsku het dat hulle moet verdaag, of dat hulle kragtens die Wet op Onwettige Vergaderings in hegtenis geneem gaan word, het hulle stadigaan die perseel verlaat.

Die groep het vroeër die St George’s Mall bestorm waar die Right2Know-veldtog formeel aansoek gedoen het om omstreeks 12:00 voor Newspaper House te betoog.

Ongeveer 50 lede van die media, lede van Agang SA en lede van die publiek, insluitend kinders, het stil met plakkate gestaan en persvryheid versoek.

Die MTMSA het kort daarna opgedaag met plakkate waarop “Dank rassistiese verslaggewers af” en “Dank Tony Weaver af” geskryf gestaan het. Weaver het Dasnois onlangs in sy weeklikse rubriek in die Cape Times, “Man Friday”, verdedig.

Sommige van die betogers het ANC- en Sanco-T-hemde aangehad. Altwee groepe het met mekaar gesels en hul slagspreuke geskree.

Betogers wat Dasnois en persvryheid verdedig, het geskree “Die ANC is korrup” en “Zuma is korrup”, terwyl die mediatransformasie-groep geskree het “Dank rassistiese verslaggewers af” en “Transformasie nou”.

Een man, met ʼn Right2Know-T-hemp het gepoog om die twee groepe uit mekaar te verdryf om gemoedere te laat bedaar.

Wesley Douglas, wat die MTMSA-betoging gereël het, voer aan hulle betoog met dieselfde toelating as die R2K-organiseerders. “In elke demokrasie regoor die wêreld is daar betogings wat altwee kante van die saak verdedig. Hoekom kan ons dit nie ook in Suid-Afrika hê nie?” Hy sê hulle ondersteun Dasnois se afdanking, maar hulle betoging handel oor meer as een individu. Dit handel oor die hele media wat getransformeer moet word. “Hoekom val wit mediahuise swart media-eienaars aan?” Hy wou ook weet waarom Dasnois nie die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) genader het nie.

Dasnois het verlede week aangedui dat sy regstappe oorweeg. “Na my mening is ek onregverdig afgedank uit my posisie by die Cape Times,” het sy gesê. “Ek het regshulp ingewin en ons oorweeg om die saak na die KVBA of Arbeidshof te verwys.”

Iqbal Surve, voorsitter van Independent News and Media SA (INMSA), het vroeër vandeesmaand in ʼn verklaring ontken dat Dasnois afgedank is, maar sê sy is alternatiewe poste in die maatskappy aangebied.

Surve het gesê die besluit is deel van ʼn strategie om swak verkope hok te slaan. In ʼn brief aan die personeel, drie dae later, het hy gesê die Cape Times het tussen 2008 en 2012 altesaam 28% verlies gelei.

Surve het in die brief ook gesê Dasnois is aangespreek omdat sy nie in die Vrydag-uitgawe oud-president Nelson Mandela se afsterwe hoofopskrifte gemaak het nie. Sy afsterwe was in ʼn omslag-bylaag.

Die voorblad het gehandel oor ʼn bevinding van die Openbare Beskermer dat ʼn tender, wat deur die departement van landbou, bosbou en visserye aan Sekunjalo Marine Services Consortium toegeken is, onbehoorlik was.

Die konsortium is ʼn filiaal van Sekunjalo Holdings, wat vroeër vanjaar ʼn besturende aandeel in INMSA bekom het. Surve is die voorsitter van Sekunjalo.

Die Sunday Times het ook hieroor berig. Sekunjalo het gevolglik kriminele klagte oor “vuilspel” teen ʼn redakteur en ʼn verslaggewer van die Sunday Times gelê.

Sekunjalo het intussen besluit om die aanklag te laat vaar en het ʼn klag ingedien by die Pers Ombudsman oor die dekking van die Sunday Times en die Cape Times, sowel as ʼn wyer klag oor ʼn aanval op sy integriteit in verskeie koerante oor die afgelope twee jaar.

Surve ontken ten sterkste dat Dasnois se vervanging verband hou met die berig oor die visserye-tender.

Lees ook:
SA PEN besorg oor Dasnois-afdanking
SANEF soek antwoorde ná redakteur se afdanking
Redakteur glo gepos ná berig oor Joemat-Pettersson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.