Gen. Norman Schwarzkopf sterf

Gen H. Norman Schwarzkopf

Norman Schwarzkopf, die Amerikaanse leërgeneraal, wat Saddam Hussein se magte tydens “Operation Desert Storm” in 1991 uit Kuwait verdryf het, is dood.

Schwarzkopf, ‘n Amerikaanse held ook bekend as “Stormin’ Norman”, is in die ouderdom van 78 by sy huis in Tampa oorlede. Sy suster, Ruth Barenbaum, het gesê hy het komplikasies weens pneumonie ontwikkel. “Ons is geskok. Dit was vir ons almal ‘n groot verrassing,” het Barenbaum gesê.

Schwarzkopf het ingestem dat verslaggewers, onderworpe aan streng militêre prosedures, saam met Amerikaanse troepe ontplooi word en nuuskanale het die beeldmateriaal 24 uur per dag uitgesaai.

Voormalige pres. George HW Bush, wat self in ‘n hoësorg-eenheid in Texas opgeneem is, het eerste op die nuus van Schwarzkopf reageer. “Ek en Barbara is hartseer oor dié verlies van ‘n ware Amerikaanse patriot en een van die beste militêre leiers van sy generasie,” het Bush gesê.

“Hoe meer jy in vrede sweet, hoe minder bloei jy in die stryd,” het Schwarzkopf in sy leeftyd gesê. “Leierskap is ‘n kragtige kombinasie van strategie en karakter. Maar as jy sonder een móét klaarkom, laat dit strategie wees,” het Schwarzkopf ook gesê.

Schwarzkopf is op 24 Augustus 1934 in Trenton, New Jersey gebore. Sy pa, kol. H. Norman Schwarzkopf Jr., was stigter en kommandeur van die New Jersey Staatspolisie.

Schwarzkopf het drie Silver Star-medaljes vir braafheid ontvang, sowel as ‘n Bronze Star-medalje, Purple Heart-medalje en drie medaljes vir uitnemende diens.

Hy laat sy vrou Brenda, en drie kinders, Cynthia, Jessica en Christian agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.