George Ezra op pad SA toe

George Ezra. (Foto: Alastair Grant/POOL/AFP)

Nóg ’n internasionale kunstenaar is op pad na Suid-Afrika toe.

Agt jaar ná sy eerste kuier in Suid-Afrika, sal George Ezra in Julie vanjaar weer in Kaapstad en dan later in Pretoria te siene wees.

Dié 29-jarige Britse sanger is bekend vir liedjies soos “Budapest”, “Green Green Grass” en “Shotgun”.

George sal op Woensdag 12 Julie by die Grand Arena, GrandWest, te siene wees en op Saterdag 15 Julie by die SunBet Arena, Time Square, in Pretoria.

Sy twee onlangsste albums, Wanted on Voyage en Staying at Tamara’s, het elkeen die nommer 1-posisie op die trefferlyste van die Verenigde Koninkryk gehaal. Daar is miljoene eksemplare van dié albums verkoop en hulle het meer as ’n miljard stromingsluisteraars bereik. Hy het ook pas sy dokumentêr, End to End, uitgereik, waarin hy vir meer as 95 dae oor ’n afstand van sowat 1 900 km oor die VK gevolg word.

Mense word ontmoedig om hul kaartjies by Viagogo aan te skaf, aangesien dié kaartjies onregmatig verkoop word teen veel duurder as die oorspronklike prys, en boonop nie regte kaartjies is nie.

Kaartjieverkope is oop vir Discovery-kliënte vanaf Woensdag 8 Maart om 09:00 tot 08:59 op Vrydag 10 Maart. Gewone kaartjieverkope open daarna.

Kaartjies vir die vertonings kan hier aangeskaf word.

Kyk hier na ’n musiekvideo van “Budapest” as lusmakertjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.