Germiston-brand: Nog ʼn kind se liggaam gekry

Argieffoto

Die liggaam van ʼn vierde kind is Dinsdag in die puin van ʼn afgebrande huis in Germiston, oos van Johannesburg, gevind.

Maroela Media het vroeër berig drie kinders het in die vroeë oggendure in Germiston doodgebrand.

Volgens William Ntladi, ʼn woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het die plakkershuis begin brand terwyl die kinders, hul ma en ouma geslaap het. “Die ma en ouma kon daarin slaag om van die brandende plakkershut weg te kom. Hulle is na ʼn hospitaal geneem waar hulle vir rookinaseming behandel word,” het Ntladi gesê.

Nooddienste het, nadat die brand onder beheer gebring is, op die liggame van ʼn driejarige, vierjarige en 13-jarige seun afgekom. Familielede van die gesin het egter later vir die brandweer gesê daar was nog ʼn seuntjie, waarna hulle op die verkoolde liggaam van nog ʼn vierjarige seun afgekom het.

Daar word vermoed die brand het ontstaan as gevolg van ʼn kers en ʼn klein paraffienstofie wat deur die nag gebrand het. Twee ander plakkershuise is ook deur die brand verwoes.

Die DA het intussen Dinsdag die Gauteng-regering versoek om meer te doen om brande in informele nedersettings te voorkom. “Daar moet voldoende spasie tussen die huise wees sodat brande nie kan versprei nie. Die inwoners moet ook geleer word hoe om brande behoorlik onder beheer te kan bring,” het Jack Bloom, die DA se leier in Gauteng, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melissa ·

Baie tragies!Kan nie verstaan hoekom die ma en ouma nie die kinders probeer uitdra het saam hulle nie.Ek sal heel eerste my kinders uit kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.