Geskenk aan generaal kos troepe R44 000

In ‘n omsendbrief aan al 44 infanterie-eenhede van die SANW word ‘n kontantbewys van R44 000 vir ‘n afskeidsgeskenk aan luitenant-generaal TM Nkabinde gevra. Nkabinde is vanaf Infanterie Formasies na die Hoof van Menslike Hulpbronne in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) vanaf 1 Oktober vanjaar bevorder. Die brief toon aan dat die geskenk met Nkabinde bespreek is en dat hy ‘n kontantbydrae verkies. ‘n Rekeningnommer word verskaf en eenhede word gevra om minstens R1000 per eenheid by te dra.

“Dit is onaanvaarbaar dat sulke versoeke aan eenhede gerig word, aangesien eenhede onder druk geplaas word en dit kom neer op intimidasie van eenhede. Die fondse word gewoonlik uit die regimentsfonds betaal. Troepe dra maandeliks by tot hierdie fonds en is veronderstel om aangewend te word om geriewe vir troepe te skep. Die beginsel is verkeerd en die Infanterie hoofkwartier kon ‘n kleiner geskenk soos ‘n skild of boek gegee het. Nou moet troepe opdok vir ‘n kontant geskenk. Hierdie praktyk van kontant vir afskeidsgeskenke moet dadelik gestaak word. Dit maak die deur oop vir korrupsie, eenhede word geïntimideer en troepe word uitgebuit,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Verdediging vir die Vryheidsfront Plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.