Geskorste staatsdiensamptenare kos belastingbetaler meer as R45 miljoen

Meer as R45 miljoen is spandeer om die salarisse te betaal van geskorste staatsdiensamptenare wat wag op die uitkoms van dissiplinêre stappe teen hulle.

Die Star berig dít is volgens ʼn onlangse verslag van die Staatsdienskommissie gedateer Junie 2011, wat Woensdag in die parlement ter tafel gelê is. Die koerant haal ʼn vorige verslag aan wat deur die departement van staatsdiens en administrasie gedoen is, wat bevind het dat die aantal amptenare wat vir finansiële wangedrag ondersoek word van 434 in die 2001/2002 periode toegeneem het tot 1135 in 2009/2010. Volgens die studie is 369 staatsamptenare tussen April 2009 en Maart verlede jaar geskors teen ʼn koste van R45,7 miljoen. Die departement van korrektiewe dienste het die hoogste aantal sogenaamde “voorkomende skorsings” gehad met ʼn totaal van 73, wat die belastingbetaler nagenoeg R7 miljoen uit die sak gejaag het. Die departement van justisie was tweede met 41 “voorkomende skorsings” teen ʼn koste van R6,4 miljoen. Die studie het egter nie melding gemaak van die departement van binnelandse sake, wat volgens meer onlangse verslae van die Staatsdienskommissie, een van die departemente is met die hoogste aantal geskorste amptenare nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.