ʼn Serwiese man wat op drie aanklagte van moord skuldig bevind is in sy tuisland, het homself aan die polisie in Kaapstad oorgegee.
Die Valke se woordvoerder, McIntosh Polela, sê die 38-jarige man het homself omstreeks 10:00 Dinsdagoggend by die Valke se kantore in Bellville oorgegee. Polela sê die polisie is tans besig met ʼn ondersoek om te probeer bepaal hoe die man Suid-Afrika in 2007 binnegekom het onder ʼn vals naam. Hy sê die man se regte naam is aan die Valke bekend. Hy sê die man is in sy afwesigheid tot 35 jaar tronkstraf gevonnis in Serwië na ʼn sluipmoord op twee mense. Nog ʼn man is in tydens die aanval gewond en is later in die hospitaal dood. Die voorval het glo in 2000 plaasgevind. Polela sê die polisie het Maandag ʼn lasbrief vir die man se inhegtenisneming bekom ná ʼn uitleweringsversoek van Serwië. Die man sal na verwagting Woensdag in die Kaapse landdroshof verskyn rakende die uitleweringsversoek.