Gespesialiseerde opleiding vir SAPS

Die polisie sal spesiale opleiding ontvang om slagoffers van seksuele misdrywe beter by te staan.

Nathi Mthethwa, minister van polisie, het Maandag gesê dat hulle gespesialiseerde opleiding vir die ondersoekers van seksuele misdrywe prioritiseer. Mthethwa sê die opleiding sal verseker dat verdagtes nie net in hegtenis geneem word nie, maar dat hulle vasgetrek kan word. Polisiestasies moet ook met toegeweide vertrekke ingerig word om ʼn omgewing te skep waar slagoffers veilig en privaat voel.

Mthethwa het ʼn beroep op die polisie gedoen om meer as net hul bes te doen om oortreders van misdrywe teen kinders vas te trek. Die indiensopleiding van polisiebeamptes sal uitgebrei word om ook ʼn slagofferondersteuningsprogram in te sluit.

Tydens die 2012/2013 finansiële jaar sal 2 161 meer speurders opgelei word met ʼn hernieude fokus op die afneem van verklarings.

“Slagoffers moet ook op hoogte gehou word met die vordering van hul saak,” het Mthethwa gesê.

Die polisie sal ook saam met die departement van onderwys werk om misdaadvoorkomingsprogramme by skole aan te bied. “Leerders word aangemoedig om enige vorm van misbruik by die SAPS aan te meld,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.