Gesteelde handgranate: Nog ʼn krat glo opgespoor

ʼn Boks handgranate wat verlede Woensdag by ʼn vulstasie op die N1 noord van Pretoria gesteel is, is glo opgespoor.

Maroela Media het verlede week berig die handgranate is die oggend by die Panorama Petroport naby Hammanskraal uit ʼn militêre voertuig gesteel. Die voertuig was van ʼn Denel-tak van Kaapstad onderweg na die Wallmansthal-weermagbasis. Die bestuurder en sy assistent het omstreeks 05:00 by die vulstasie aangekom en besluit om te slaap, aangesien hulle eers die aflewering 08:00 kon doen.

Terwyl die mans in die voertuig geslaap het, het die diewe glo die drie bokse gesteel. Een boks handgranate is later in ‘n veld gevind, maar die ander twee bokse was steeds soek. Sowat 70 handgranate is as vermis aangemeld.

Denel het intussen bekend gemaak dat dit M-9143-granate (fakkels) is wat nie gevaarlike plofstof bevat nie. Dié granate verlig ‘n gebied wanneer dit ontvlam.

ʼn Polisiebeampte het Donderdag aan Maroela Media gesê kolonel van die leër in ʼn amptelike voertuig het aan hulle bevestig dat een van die twee vermiste kratte opgespoor is en dat hulle tans onderweg is om dit naby Hammanskraal te gaan oplaai. Inligting is nog skaars oor presies waar die krat gevind is en waarheen dit nou vervoer gaan word. Die polisiebeampte het bevestig dat dit nogal verdag is dat “soveel moeite” gedoen word om die handgranate onder militêre toesig te gaan haal as dit glo onskadelik is.

Maroela Media wag op kommentaar van Denel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.