Gesteelde juwele was R1.3 miljard werd

Die waarde van die juwele wat Sondag in Cannes in die Franse Riviera gesteel het, is aansienlik meer as die R520 miljoen wat aanvanklik berig is.

ʼn Gewapende man het Sondag in die Carlton-hotel ingestap en juwele ter waarde van €103 miljoen (sowat R1,3 miljard) gesteel.

Die man het ʼn kopbedekking aangehad en met ʼn semi-outomatiese pistool die juwele gesteel wat deel was van ʼn uitstalling deur ʼn groep wat deur die Israeliese biljoenêr, Lev Leviev, besit word.

Owerhede het aanvanklik die diefstal op €40 miljoen (nagenoeg R520 miljoen) beraam, maar ná ʼn inventaris van die uitstalling opgestel is, bepaal dat die bedrag aansienlik hoër is. “Die man het ʼn verskeidenheid van juwele gesteel, insluitend ringe, hangertjies en oorbelle met diamante,” het aanklaers in Grasse naby Cannes gesê.

Voor Sondag se diefstal was die wêreld se grootste juwelediefstal ʼn voorval in 2003 in België toe rowers met juwele ter waarde van €100 miljoen gevlug het. Meer as 120 uit 160 kluise in die Diamond Centre in Antwerp se diamantdistrik is oopgebreek en beroof.

“Dit het alles baie vinnig en sonder geweld gebeur,” het die aanklaer se kantoor Sondag oor die rooftog in Cannes gesê. Personeellede en vakbonde blameer slap sekuriteit by die Carlton-hotel. Die uitstalling is glo in ʼn vleuel van die hotel aangebied wat direkte toegang tot die straat het en die polisie voer aan hulle is nie vroeër in kennis gestel van die uitstalling nie. Alhoewel dit nie ʼn wetlike vereiste is nie, sou dit normaalweg standaardprosedure wees vir luukse hotelle om die polisie in kennis te stel van die uitstalling.

Miljardêr Lev Leviev

Die CGT-vakbond het Maandag gesê die Carlton het in 1994 ook onder ʼn juwelediefstal deurgeloop en ʼn sekuriteitswag is ernstig gewond toe hy raakgeskiet is.

Leviev maak glo van sy eie sekuriteitswagte gebruik vir die “Buitengewone diamante”-uitstalling wat op 20 Julie oopgemaak het.

Juwele ter waarde van $1.4 miljoen is in Mei tydens die jaarlikse filmfees in Cannes uit ʼn kluis in ʼn hotelkamer van ʼn Chopard-werknemer gesteel.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn diamanthalssnoer ter waarde van $1.9 miljoen ook tydens die filmfees gesteel.

Lees ook:
Juwele van R520 miljoen gesteel
Miljoene rande se juwele by Cannes-filmfees gesteel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.