ʼn Renoir-skildery wat by ʼn vlooimark vir $7 aangeskaf is, is glo die ware Jakob en moet nou aan die museum, waaruit dit 60 jaar gelede gesteel is, terugbesorg word.
Regter Leonie Brinkema het in Virginia, Amerika, beslis dat die 1879-olieskildery op linne aan die museum in Baltimore terugbesorg moet word. Die skildery, Paysage Bords de Seine (Op die oewer van die Seine), is in November 1951 uit die museum gesteel.
Die skildery sal glo in Maart aan die museum terugbesorg word.
Die regter het bewerings van Marcia Fuqua, dat die skildery aan haar behoort, van die hand gewys. Die poskaartgrootte skildery is glo $22 000 (ongeveer R234 000) werd.
Fuqua het gesê sy het die skildery in 2009 by ʼn vlooimark in Wes-Virginia vir $7 (sowat R74) aangeskaf.
Die FBI het in Oktober 2012 by ʼn veiling beslag gelê op die skildery. Fuqua, wat in die plaaslike media as die “Renoir girl” bekend staan, wou glo die ongetekende skildery op die veiling vir $100 000 (ongeveer R1.06 miljoen) verkoop.