Gesteelde Stradivarius-viool verkoop vir R23 miljoen

Die viool links en Min-Jin Kym by die viool wat eers aan haar behoort het voordat dit gesteel is

Die viool links en Min-Jin Kym by die viool wat eers aan haar behoort het voordat dit gesteel is

‘n Seldsame Stradivarius-viool, wat in ‘n stadium gesteel was en deur die diewe vir R1 600 te koop aangebied is, het Woensdag in Engeland £1.3 miljoen (meer as R23 miljoen) op ‘n veiling gehaal.

Diewe het die instrument, wat in 1696 vervaardig is, en twee waardevolle boë in 2010 by Min-Jin Kym, ‘n violis van Korea, gesteel terwyl sy ‘n toebroodjie by ‘n kafee in Londen geëet het.

Die viool is in Julie veilig opgespoor in ‘n huis in Engeland, maar die violis het in daardie stadium reeds ‘n nuwe instrument aangeskaf.

Drie mense is in 2011 in verband met die diefstal in hegtenis geneem.

Die viool is Woensdag deur Tarisio-afslaers op ‘n veiling verkoop vir £1,385 miljoen (R23,4 miljoen). Volgens die afslaers sal ‘n gedeelte van die opbrengs aan die Britse metropolisie geskenk word, wat gehelp het om die instrument op te spoor.

Die diewe het in ‘n stadium probeer om die viool vir £100 (sowat R1 600) te verkoop. John Maughan (toe 30 jaar oud) is vier jaar tronkstraf opgelê nadat hy in April 2011 skuldig gepleit het op die diefstal van die viool. Twee tieners van Londen, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, is na jeugaanhoudingsentra gestuur.

Viole deur die Italianer Antonio Stradivari (1644 – 1737) is uiters seldsaam en waardevol. Daar is tans moontlik nie meer as 600 van dié viole oor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.