Gestorwe helde vereer

Quentin Meyer

Tien van die bekendste Suid-Afrikaners wat in die Heldeakker in die Pretoria-kerkhof hul laaste rusplek gevind het, se grafte sal binnekort silwerskoon wees en vars blomme kry.

Dit is wat Quentin Meyer, ‘n 30-jarige eiendomsagent van Pretoria, beoog wanneer hy en ‘n groep vrywilligers op 20 Oktober by die Kerkstraat-begraafplaas bymekaar gaan kom.

“Tien grafte in die Heldeakker sal geïdentifiseer word. Ons gaan die grafstene was, die bossies rondom die grafte uittrek en ‘n vars krans op elkeen se graf plaas,” het Meyer gesê.
‘n Spreker sal ook kortliks die geskiedenis van elke gestorwe held met die mense deel. Meyer nooi almal wat hul verlede koester om aan dié skoonmaakaksie deel te neem.

Meyer vertel sy belangstelling in, en liefde vir die kultuur en geskiedenis van Pretoria en sy ontslape inwoners, spruit uit ‘n saadjie wat sy ma jare gelede by hom geplant het.

“Sy het ons altyd op uitstappies gevat na museums, monumente en ander plekke van geskiedkundige belang. Ek onthou toe ek as klein seuntjie vir die eerste keer binne die Voortrekkermonument gestaan het; daar was hierdie emosie van ‘wow, die storie hieragter is groter as wat ek kan begryp’. Hoe meer ek daarna van geskiedkundige helde geleer het, hoe sagter plekkie het ek vir hulle gekry.”

As jong man het Meyer steeds voortgegaan met dié tradisie, tot die besef hom aan die begin van dié jaar tref dat van die plekke nie meer soos voorheen in stand gehou word nie. “Ek het egter ook geweet dat om net agteroor te sit en te kla, niks sal help nie. Ek moet self my moue oprol en iets daaraan doen.”

Op 5 Augustus vanjaar het dié oudskolier van die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria daad by die woord gevoeg toe hy en 100 vrywilligers na Kerkplein gestap het – gewapen met besems, borsels en emmers vol water.

“President Paul Kruger se standbeeld was toe baie lank laas gewas en ons voel dit is ons plig as Pretorianers om na ons stad en sy geskiedenis om te sien,” het hy gesê. “Na ons hom en sy vier boerekrygers geskrop het, kon hulle omtrent met hul nuwe, skoon baadjies spog!” Nou is die helde van die Pretoria-begraafplaas volgende aan die beurt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.