Gestremde Christen-meisie van godslastering aangekla

Die Christenmeisie se regsverteenwoordiger, Naveed Chaudhry, na die borgaansoek. Foto: AP

‘n Gestremde 16-jarige meisie wat nou al twee weke in ‘n Pakistanse tronk aangehou word weens beweerde godslastering, is deel van ‘n internasionale sameswering om die Islam belaglik voor te stel. So het die nuwe aanklaer van die meisie, wat glo Downsindroom het, in die meisie se borgaansoek aangevoer. Sy sou na verwagting Donderdag borg gekry het, maar die aansoek is tot 1 September uitgestel na die aanklaer, ‘n bekende Moslem-radikale, die aantyging gemaak het.

Die meisie, wat deel van ‘n baie arm Christen-familie is, het glo voorverledeweek weggooipapier op ‘n ashoop bymekaar gemaak en verbrand om kos mee gaar te maak. Sy is van godslastering beskuldig toe ‘n geestelike beweer het van die papiere het heilige Islamitiese tekste bevat.

Die polisie het die meisie aanvanklik in hegtenis geneem om haar teen oproerige skare te beskerm. Dit is nie ongewoon dat mense wat van godslastering beskuldig word, deur skares doodgemaak word nie.

Waarnemers wys daarop dat die Pakistanse staat eenvoudig magteloos teen die mag van Islamitiese radikale is. Die president het al ‘n slag probeer inmeng, maar ‘n tweede poging kan beteken dat ‘n Moslem-hoë ‘n fatwa oor hom kan uitspreek wat hom ‘n sluipmoordteiken sal maak.

Die verwagting was dat die meisie weens haar gestremdheid verskoon sou word, maar die nuwe aanklaer het sake vertroebel. As die meisie skuldig bevind word, kan sy lewenslange gevangenisstraf opgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.