Gestremde motoris glo by toetssentrum gespot

Dane Wilson Foto: Sportograf/ABSA Cape Epic

Dane Wilson, ʼn gestremde motoris, het ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien nadat hy glo deur personeellede van die Waltloo-rybewystoetssentrum in Pretoria gespot en verneder is, berig EWN.

Wilson is sonder sy linkerhand gebore en wou verlede week sy rybewys hernieu, maar het aan EWN gesê hy is daar weg nadat ʼn beampte hom gespot het. Hy sê ʼn “onbeskofte vroulike toetsbeampte” het gesê hy moet mediese sertifikate indien wat bewys dat hy kan bestuur.

Wilson sê hy het verneder gevoel en haar gevra of hulle dalk privaat kon gesels, maar die vernedering het nie opgehou nie. “Sy het toe haar linkerhand na haar skouer gebuig en dit spottenderwys gewikkel en gevra hoe ek ratte verander sonder ʼn linkerhand,” het hy verduidelik.

EWN berig verder hy het sy rybewys sonder beperking ontvang en het dit die afgelope 12 jaar wat hy motor bestuur, reeds drie keer hernieu. “Ek het ʼn ‘normale’ leefstyl en gebruik nie ʼn prostetiese hand nie, omdat ek sedert my geboorte al aangepas het,” het hy aan EWN gesê.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-munisipaliteit, het om verskoning gevra vir die voorval en sê ʼn ondersoek is reeds van stapel gestuur. Hy het gesê hulle sal Wilson op hoogte hou van die vordering van die ondersoek. Bokaba het gesê die hoof van die fasiliteit sal Wilson uitnooi “vir ʼn koppie koffie” om die voorval te bespreek.

Wilson is ʼn fietsryer wat vroeër vanjaar saam met spanmaat Reuben van Niekerk aan die Absa Cape Epic-wedren deelgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trudie ·

Daar is baie wat by daai toets sentrums gebeur wat nie geraporteer word nie,.

Trudie ·

Baie mense sukkel om rybewyse te kry , hoekom ? Ek sal sê daar moet ondersoek ingestel word……vervalsde rybewyse word links en regs verkoop….

Linda ·

Dit gaan onder die mat ingevee word! Ons is mos die mense wat verlee is oor hulle dienste of so glo hulle inelkgeval

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.