ʼn Man in ʼn rolstoel het terugbaklei nadat hy deur ʼn rower aangerand is in sy huis in Humandorp naby Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.
Lt. kol. Priscilla Naidu, ʼn polisiewoordvoerder, sê die 55-jarige man het Donderdagmiddag televisie gekyk toe die rower die huis binnegekom het. “Die inbreker het die man aangerand en ʼn tou om sy nek vasgemaak waarna hy hom in die huis rondgesleep het…maar hy het die inbreker aangevat.” Naidu sê die inbreker het die tou hard getrek waarna die man van sy rolstoel af geval het. “Hy kon steeds daarin slaag om met sy hande terug te baklei.” Naidu sê die rower het met ʼn skootrekenaar ter waarde van R6 000 op die vlug geslaan. Die saak is aan die polisie gerapporteer toe die man se vrou tuis gekom het van die werk af. Die rower is steeds soek.