Getatoeëerde musikant dalk volgende Tsjeggiese president?

Vladimir Franz

Vladimir Franz, musikant en professor, wat van kop tot tone getatoeëer is, is tans in die derde plek in die Tsjeggiese Republiek se 2013 presidensiële verkiesing.

Franz, ʼn 53-jarige dramaprofessor, skilder en komponis, het aangekondig dat hy sowat 90 000 stemme ingewin het, en dat hy dus wettiglik aan die presidensiële verkiesing kan deelneem. Sowat 90% van Franz se liggaam het tatoeëermerke en hy het ook ʼn verskeidenheid liggaamsoorbelle en blou hare.

Sommige verwys na hom as Franz “Avatar” en tydens ʼn debat wat op die televisie uitgesaai is, het een kyker na hom verwys as “ʼn eksotiese kreatuur van Papoea-Nieu-Guinee.

Franz het geen politieke ondervinding nie en hy erken dat hy baie min kennis dra van die ekonomie. Sy verkiesingsveldtog steun sterk op stemme uit die jong bevolking en een van sy doelwitte is om marijuana te wettig. Hy het glo slegs $25 000 aan sy veldtog spandeer, die res van sy bemarking is danksy vrywilligers en sosiale media.

Talle Tsjegge, veral in die hoofstad, word nie deur Franz se voorkoms afgeskrik nie, en sal vir hom stem indien daar nie ʼn behoorlike alternatiewe kandidaat is nie. “Die tatoes maak nie ʼn verskil nie,” het Jakub Fisera, ʼn student in Praag, gesê. “Die gebrek aan ondervinding in die politiek is eerder ʼn probleem.”

“Persoonlik sal ek nie vir hom stem nie, maar die tatoes is nie vir my ʼn probleem nie,” het Tomas Pistora, ʼn IT-spesialis van Praag, gesê. “Die jonger geslag verkies hom omdat daar nie ʼn beter keuse is nie.”

Vladimir Franz

Franz noem sy tatoes “liggaamskuns”. Sy gesig is groen en rooi sirkels op ʼn blou agtergrond. ʼn Skildery van die Tsjeggiese komponis Bohuslav Martinu pryk op sy hande en ʼn gekruisigde Christus op sy bors.

Die eerste direkte presidensiële verkiesing in die Tsjeggiese Republiek vind Vrydag en Saterdag plaas. Die president is vroeër deur die parlement aangewys. Nege kandidate neem aan die verkiesing deel. Die gunstelinge in die verkiesing is Miloš Zeman, die linkse premier in 1998 – 2002 wat tans die voortou neem met sowat 25% van die stemme en Jan Fischer, ʼn gematigde met sowat 20% van die stemme wat ʼn versorgingsregering in 2009 – 2010 gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.