ʼn Polisiebeampte het in die rondgaande hof in Ventersdorp getuig dat die twee mans wat beskuldig word van die moord op Eugene Terre’Blanche daarop uit was om hom te vermink.
Kapt. Jacobus Rautenbach het getuig “hulle het uitgegaan daarop om hom te vermink .Hulle wou hom uitwis “. Rautenbach sê hy is oortuig daarvan dat die moord op Terre’Blanche polities gemotiveerd was. Hy sê dit kan verbind word aan die sing van die woorde “skiet die boer” wat deur ANC-jeugligaleier, Julius Malema, gesing is. Die sing van “skiet die boer” is intussen verban. Rautenbach sê hoewel Malema in Zimbabwe was ten tyde van die moord het hy die lied gesing en dus die bevel gegee rakende wat gedoen moet word. Hy sê Malema het dit in die media geadverteer. Die saak duur voort. Chris Mahlangu en ʼn minderjarige word aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede.