Getuie: ‘Terre’Blanche se broek was oop vóór hy aangeval is’

Die vermoorde Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

ʼn Forensiese ontleder het in die rondgaande hof op Ventersdorp getuig dat Eugene Terre’Blanche se broek oop was voor hy aangeval is.

Lt. kol. Ian van der Nest sê “dikwels sal ʼn persoon wat ʼn groterige maag het sy belt en die boonste knoop van sy broek losmaak wanneer hulle lê”. Van der Nest sê indien so ʼn persoon sou regop sit sou sy broek oopgegaan het. Hy sê dit wys dat Terre’Blanche se broek oop was voor hy aangeval is aangesien sy belt, boonste knoop en ritssluiter oop was. Van der Nest het ook getuig dat bloedvlekke aan die linkerkant van Terre’Blanche se penis gevind is.

Van der Nest het vroeër vanoggend getuig dat uitermatige geweld gebruik is om Terre’Blanche te vermoor. Van der Nest het aan die hof beskryf in watter rigtings Terre’Blanche se bloed gespat het terwyl hy vermoor is en wat die betekenis daarvan is. Van der Nest sê die bloedvlekke wat teen die muur agter Terre’Blanche se kamerdeur gevind is dui daarop dat uitermatige geweld gebruik is. Hy sê die bloedvlekke wat regoorkant die ingang van die vertrek sigbaar was, van sirkelvormige aard was. Hy sê dit dui daarop dat die aanranding plaasgevind het op ʼn hoek van 90 grade, soos met ʼn bofbalkolf. Van der Nest sê die bloedvlekke dui daarop dat Terre’Blanche vermoor is terwyl hy op sy bed gelê het. Chris Mahlangu en ʼn minderjarige word aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede. Terre’Blanche is op 3 April verlede jaar op sy plaas buite Ventersdorp vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.