Gevaarlike misdadiger vasgetrek

Die Zeerust-polisie het ʼn deurbraak gemaak nadat hulle Donderdag een van die drie gevaarlikste misdadigers in Noordwes in hegtenis geneem het.

Lt.kol. Lesego Metsi, ʼn polisiewoordvoerder, sê ʼn spesiale taakspan is deur lt.genl. Zukiswa Mbombo, die provinsiale kommissaris, op die been gebring om ʼn reeks moorde en kapings in die provinsie te ondersoek. “Die 20-jarige verdagte is Donderdagaand in hegtenis geneem nadat speurders sedert 20 November onverpoosd gewerk het om hom aan te keer. Die verdagte se twee medepligtiges is reeds op 20 November in hegtenis geneem,” het Metsi gesê.

“Al drie verdagtes word verbind aan ʼn reeks kapings, moorde, pogings tot moord, ontvoerings en verkragtings sedert November 2011 in Zeerust en Madikwe. Hul modus operandi was gewoonlik om hul slagoffers te kaap, waarvan die meeste paartjies in afgeleë en strategiese gebiede was. Hulle sou dan die vroulike slagoffer te verkrag en daarna die paartjie vermoor. In sommige gevalle is die slagoffers eers ontvoer voor dieselfde lot hulle getref het. Alle slagoffers is geskiet,” het hy gesê.

Metsi sê die 20-jarige het die polisie probeer ontduik sedert sy medepligtiges in hegtenis geneem is en gaan nou die volle mag van die gereg in die gesig moet staar. Die verdagtes moet binnekort in die Zeerust-landdroshof verskyn. Die polisie doen intussen DNA-toetse om vas te stel of die verdagtes met meer sake verbind kan word.

Mbombo het die taakspan geprys vir die goeie werk wat hulle gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.